Local sportSport

Jong Pumas stel teleur in Cravenweek

A Tale of Two Cities is een van die Britse skrywer, Charles Dickens, se mees bekende verhale.

Die Pumas se Cravenweekspan het egter Woensdagmiddag op HTS Middelburg se A-veld met hul eie Dickens-werk vorendag gekom, toe hulle A Tale of Two Halves neergepen het. Want, so futloos soos wat hulle in die eerste helfte was, só het hulle in die tweede helfte teruggeveg. Maar nes Maandag se kragmeting teen die Westelike Provinsie, was hierdie herlewing weer eens te laat. Die span het uiteindelik 27-38 teen KwaZulu-Natal verloor.

Gert van der Westhuizen is ’n afrigter wat sake normaalweg komkommerkoel van langs die veld betrag, maar mens sou hom vergewe as hy Woensdag ’n paar keer uit frustrasie in sy plastiekstoel rondgeskuif het – veral in die eerste helfte.


Verdagte besluitneming en swak verdediging was aan die orde van die Pumadag en het tot drie verspot maklike Haai-drieë in dié helfte gelei. Die rustydtelling was 5-24 in hul guns en die Natallers het vir alle praktiese doeleindes reeds die wedstryd in die sakkie gehad. 

In die tweede helfte het die tuisskare uiteindelik iets gehad om hul vriende opgewonde oor te Whatsapp, en vir die laaste 35 minute was daar meer doelgerigtheid in die Pumas se spel: aanvalle is afgerond, terwyl daar ook beter verdedig is. Barend Smit – wie maar ’n stil eerste helfte gehad het – het oorgeduik vir ’n drie, terwyl sy Rooibulspanmaat, Chrisjan Steynberg, in die 53ste minuut die eerste van sy twee drieë gedruk het.

Steynberg se drie het waarskynlik die beste Pumafase van die wedstryd ingelui. Hulle het in dié tydperk gereeld op die Natallers se doellyn geboer en nie ’n enkele punt afgestaan nie. Die span se losskakel, Siyabonga Masuku, het gaan druk, terwyl Steynberg vir oulaas vir Puma-glimlagte gesorg het toe hy in die doodsnikke weer deurgebars het. Verwag egter Saterdag ’n sterk vertoning deur die span wanneer hulle vir oulaas alles in die stryd sal werp. Hulle het Maandag teen die Westelike Provinsie én in Woensdag se tweede helfte gewys dat hulle oor genoeg skietgoed én talent beskik om enige wedstryd te wen.

• Opbreek van helftes:
Eerste helfte: 5-24 vir KZN
Tweede helfte: 23-14 vir Pumas

• Beide spanne het vyf drieë gedruk, maar die Haaie se Curtis Jonas het met vyf doelskoppe en ’n strafskop geslaag, terwyl die Pumas slegs met een doelskop suksesvol was. 

Puntemakers:
Pumas: 
Drieë: Barend Smit, Chrisjan Steynberg (2), Mfundo Ndlovu, Siyabonga Masuku. Doelskop: Smit

KwaZulu-Natal: Drieë: Curtis Jonas, Jacobus Coetzee (2), Morné Joubert (2). Doelskoppe: Jonas (5). Strafskop: Jonas.


• Die bepalings vir Saterdag se finale wedstryde was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button