Pumas se grotes reg vir die stryd
Jimmy Stonehouse en MJ Mentz, afrigters van die Steval Pumas, het die week al hul groot kanonne gekies wat in Middelburg in die voorlaaste opwarmingswedstryd van die 2014 Curriebeker-reeks sal speel.

Met die 2014 Cravenweek vir o/18s wat Maandag in dié dorp afgeskop het, is dit net rugby waar jy kyk, en die Steval Pumas se wedstryd Vrydag om 15:00 teen die Regent Boland Kavaliers op die Kees Taaljaard-stadion, gaan beslis ook een van die hoogtepunte van die week wees.
Stonehouse het besluit om die ervare Corné Fourie, Faf de Klerk, Stefan Watermeyer, JW Jonker en Coenie van Wyk, wat die eerste gedeelte van die jaar vir die Leeus Super 15 groep uitgedraf het, in sy beginspan in te sluit.
“Ek wil die sterkste moontlike span kies voor ons volgende week teen die Blou Bulle in Mbombela gaan uitdraf en wil ook dié spelers kans gun om weer in ons strukture in te pas,” noem Stonehouse.
Toegang is slegs R20 per persoon kos en skoliere in skooldrag is gratis. Na afloop van die wedstryd sal die World of Steel Puma o/21-span teen ‘n Hoëveld Barbarianspan speel in dié groep se Curriebeker-opwarminginsveldtog.
“Volgende week is egter vir ons ‘n baie groot uitdaging siende dat die Bulle hulle volwaardige Curriebekerspan van die seisoen bring en ons wil 300 persent gereed wees. Die wedstryd sal om 17:00 afskop en kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar. Skoliere is gratis en kaartjies vir volwassenes beloop R50,” sluit Mentz af.
Die 25-man groep is Coenie van Wyk, Ruwellyn Isbell, JW Jonker, Stefan Watermeyer, Rosco Spekman, JC Roos, Faf de Klerk, RW Kember, Renaldo Bothma, Corné Steenkamp (kaptein), Giant Mtyanda, Frikkie Spies, Corné Fourie, Jacques Momberg en Vincent Koch. Op die bank is Frankie Herne, DeJay Terblanché, Marius Coetzer, Uzair Cassiem, Jaco Bouwer, Justin van Staden, Hennie Skorbinski, JW Bell en Heinrich Steyl.
