Local sportSport

Ringbalspelers veg vir keuring en glorie op die baan

'n Mens kan die konsentrasie op hul gesigte sien - fronslyne op hul voorkop, oë wat blink, monde wat ritmies beweeg en inspirerende klanke uitstoot asook al die wilde handgebare.

En dit is net die lewendige en entoesiastiese reaksie van die toeskouers en bestuur langs die kantlyn – watwou nog op die baan.

Daar is baie op die spel vir dié wat aan die 67ste Suid-Afrikaanse Nasionale Ringbalkampioenskappe deelneem wat vir 50 minute hul alles vir nasionale keuring en glorie gee.

Die kampioenskappe vind vanjaar by Hoërskool Bergvlam in Mbombela vanaf 14 tot 19 Julie plaas met 14 distrikte wat in die grootste en belangrikste ringbalkampioenskap in Suid-Afrika deelneem. Ringbal is eg Suid-Afrikaans met die sport wat in 1907 sy ontstaan in ons reënboogland gehad het. Voorheen bekend as korfbal, is hierdie sport, wat uit elemente van netbal en basketbal bestaan, een van die meer gewilde Afrikaner-sportsoorte. 

Volgens Johan Oosthuizen, president van Ringbal SA, is dit ‘n unieke sport wat nie met ander vergelyk kan word nie.

“Daar is nie ‘n ander sport waar die ouderdomsgroepe van o/9 tot meesterskategorieë by een toernooi strek nie. Daar is ‘n mans- en dames-afdelings en almal is uiters kompeterend.”

By Hoërskool Bergvlam is die aksie witwarm met 150 wedstryde wat per dag gespeel word. 

“Daar word vyf rondes op 15 bane gedurende die toernooi gespeel wat omtrent 700 wedstryde in totaal behels,” het Oosthuizen gesê.

Spanne speel die spel op ‘n sementbaan, soortgelyk aan ‘n netbalbaan, wat in drie blokke verdeel is. Daar is nege spelers in elke span wat uit verdedigers, middelveldspelers en doelskieters bestaan, met elke span wat ook drie plaasvervangers het. 

Punte word behaal wanneer die bal met albei hande met ‘n onderarm-aksie deur ‘n doelring gegooi word. ‘n Gewone doel tel twee punte met ‘n strafdoel wat die span een punt sal besorg. 

Oosthuizen beoefen die sport al vir 30 jaar en is grotendeels verantwoordelik vir die uitbreiding daarvan oor Suid-Afrika se grense. 

“Daar is tans sewe lande wat ringbal beoefen onder andere, Mauritius, Botswana, Namibië, Indië en Lesotho.”
Volgens Oosthuizen bied die sport ook ‘n rits fisiese voordele, soos balvaardighede, ratsheid en taktiese denke – iets wat handig in ander sportsoorte soos rugby te pas kom. 

“Joost van der Westhuizen was een van ons ringbal Springbokspelers gewees voordat hy ‘n Springbok-rugbyspeler geword het,” noem hy.

‘n Groot trekpleister van hierdie sport is die gees en familie-atmosfeer. Al die verskillende families, vriende en generasies hou die sport aan die gang,” noem Oosthuizen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button