Local sportSport

Bergies trap spore in fietsry

Bergfietsry word as een van die vinnigste groeiende sportsoorte in die land gereken.

Die grootste probleem is wel dat publieke skole nog nie genoeg aandag aan hierdie sportsoort gee nie en eerder hul fokus op die tradisionele sport soos rugby en netbal toespits. 

Dit is die mening van Lizl Pretorius en haar Laerskool Bergland-fietsryklub wat vasberade is om dit ‘n skolesport-tradisie te maak.
Lizl is die organiseerder en stigter van die klub by Bergland en organiseer ook Hoërskool Nelspruit se bergfietsspan. 

In die afgelope twee jaar vandat die klub in 2012 gestig is, het die span ‘n hele paar merkwaardige prestasies behaal. Die skool het in sy eerste deelname aan die Spur MTB-reeks as wenner uit die stryd getree en boonop privaatskole soos Curro en Penryn uit die veld geslaan. 

“Niemand het van ons skooltjie gehoor nie. Toe wen ons sommer die trofee met ons eerste probeerslag. Nadat ons na twee van die vier rondes die voortou geneem het, het ons besef ons het ‘n kans. 

“Ons het die ander skole geklop omdat ons uitstekende fietsryers gehad het, maar ook baie. Elke kind wat deelneem, kry een punt vir sy skool. Dit is hoe ons gewen het,” vertel Lizl. 

Sy was nie self ‘n bergfietsryer nie, maar het daaraan belanggestel omdat haar seuns daarvan hou. Toe hulle vanaf Johannesburg na die Laeveld verhuis het, het hulle van die Spur-bergfietsryskolereeks gehoor en toe ‘n byeenkoms bygewoon. 

“Ek sien toe dat daar baie skole deelneem en vra toe waar ons skool is? Ek het navraag by die skool gedoen en hoor toe dat ek self ‘n bergfietsspan op die been moet bring.” 

Lizl het met die eerste vergadering alreeds belangstelling gelok en ondersteuning van die ouers gehad toe daar tot haar verbasing 40 mense opgedaag het om die nuwe verwikkeling te bespreek. 

“Omdat dit ‘n skolereeks is, moet ons ons rydrag self ontwerp. Ons kon nou nie afsteek teen die privaatskole nie. Ons het toestemming ontvang om dit in helder neonkleure te omskep. 

Die Spur Skole-bergfietsreeks bied leerlinge die geleentheid om hul skool in verskeie ouderdomskategorieë te verteenwoordig. 

Die fietsryers ry dan op ‘n afgemerkte roete of baan wat cross-country/relay genoem word. Hoe ouer jy is hoe meer rondes doen jy om die baan. Dit begin by dieselfde punt, maar brei verder uit. 

“Dit sal fantasties wees as ander ouers ook hul kinders se skole betrokke sal kry – dit is so ‘n goeie sport. Ons woon in ‘n mooi plek en ons moet vir ons kinders die geleentheid skep,” voeg Lizl by. 

“Ongelukkig is daar meer seuns as meisies. Ek sal graag wil sien dat meer dogters deelneem, daar is eintlik ‘n geleentheid vir ‘n dogter om uit te blink omdat daar minder kompetisie is.”

Lizl noem ook dat borge van uiterste belang is vir die groei van die sport. “Tipiese borge sal energiedrankies of energielekkers insluit.

By die skolereeksgeleenthede is daar omtrent 1 500 mense wat aan jou handelsmerk blootgestel sal word. 

Volgens Lizl kan daar ‘n aantal verbeterings aan dié reeks aangebring word. “Daar moet meer vrywilligers wees wat die wedren dophou en met beserings gedurende die wedren kan help. Ek sal ook wil sien dat onderwysers meer betrokke raak omdat kinders aanklank by ‘n onderwyser vind. Hulle ken die kinders se name, iets wat ek ongelukkig nie doen nie.” 

Laerskool Bergland is in die 2014-reeks in die tweede posisie met 77 punte. Penryn is eerste met 96. 
Die volgende wedren op die bergfietsreeks se kalender vind op 16 Augustus by Curro Nelspruit plaas met Laerskool Bergland wat weer al die aandag in hul neongroen en -oranje fietsryhempies sal wil trek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button