Bothma se talent ‘n aanwins vir die Namibiese span
Die rugbymedia in Namibië noem die bedrywige agsteman van die Steval Pumas, Renaldo Bothma die nuweling.

Dit is hom beskore om die legendariese losvoorspeler en voormalige kaptein, Jacques Burger van die vorige twee IRB Wêreldbekers se plek in die Welwitschia-span vol te gaan staan.
Bothma het vandeesweek teruggekeer van ‘n baie suksesvolle eerste volwaardige internasionale toer saam met die Namibiese rugbyspan. Die Namibiërs het in Madagaskar in drie kwalifiserende toetse van die 2015 Wêreldbeker gespeel.
Daar het die 24-jarige Frankforter nie net in sy eerste toets teen Zimbabwe gespeel nie, maar ook sy eerste toetsdrie gedruk.
“Dit was ongelooflik. Ek moet sê, ek het nooit gevoel soos die nuweling in die span nie, en die hele afrigtingspan en al die spelers was ongelooflik,” sê Bothma.
Hy noem dat die stadionkaartjies vir die oefenwedstryde in Windhoek teen die Westelike Provinsie en die Vodacom Blou Bulle Super15-span, heeltemal uitverkoop was.
Die impak van die jongman se eerste toer saam met die Welwitschias is weerspieël in die feit dat hy as die voorste driedrukker en speler bekroon is. In die laaste toets teen Madagaskar het Bothma nie minder nie as vier drieë vir sy span gedruk vir die kwalifiserende oorwinning van 89-10.
Die Welwitschiaspan se uitdaging op die laaste dag was om die wedstryd met meer as 53 punte te wen om uiteindelik vir die Wêreldbekerreeks te kwalifiseer.
“Dit is ‘n besondere eer dat die ouens geloof in my het en ek is bly die toer het vir ons goed uitgewerk,” vertel Bothma verder.
“Ek dink ons het ‘n moeilike begin gehad. Maar op die ou end het die ouens in mekaar se vermoëns geglo en gewys dat ons kon opstaan. Alle eer kom God toe,” vertel Bothma nederig.
“Die openingswedstryd teen Kenia was vir my nogal ‘n kultuurskok omdat ek meer gewoond is aan gestruktureerde rugby. Dan was daar ook nog die intimiderende skare van 40 000 op dag een.”Armoede in Madagaskar is om elke hoek en draai.Die veld was soos ‘n stofstraat. Die meeste van die spelers het maar met tekkies geoefen en ek moes self nuwe stewels kry omdat myne glad nie sou werk met die harde veld nie,” sluit hy af.
Nou lê die twee laaste Curriebeker-opwarmingswedstryde vir die Steval Pumas voor, die eerste Vrydagmiddag om 15:00 teen die Regent Boland Kavaliers in Middelburg, dan teen die Vodacom Blou Bulle om 17:00 op 1 Augustus hier in Mbombela.
Kaartjies vir die wedstryd sal R50 per persoon beloop en kinders onder 18 is gratis. Dit sluit parkering in en is reeds by die stadion en alle Computicket-kantore beskikbaar. Die Steval Pumas se Curriebeker-reeks begin op 9 Augustus teen die Toyota Cheetahs by Mbombela Stadion.
