Local sportSport

Gauteng-Suidwes stap weg met die ringbaltitel

Na ses fisies én geestelik uitdagende dae by die 2014 Nasionale Ringbalkampioenskappe op Hoërskool Bergvlam se bane, is daar Saterdag 'n wenner aangewys.

Gauteng-Suidwes het as die ringbal-unie van die jaar uit die stryd getree. 

Hulle senior mans se A-span het boonop ook ‘n eerste plek behaal en hulle kon dus met trots die pad huis toe aanpak. Die spankaptein, Roger van Greunen, was oorstelp van vreugde en het die beker met mening gesoen om dié prestasie af te rond. In die vroue-afdeling het hulle senior A-span ‘n tweede plek behaal en is as een van die jaar se grootste aanwinste gereken. 

Die mededinging was taai en die oorwinnings is naelskraap behaal. Die drie senior mans A-spanne het byvoorbeeld na vyf rondes steeds 18 punte elk gehad. Doelverskille moes toe gebruik word om die wenner te bepaal. Gauteng-Noord was een van die sterkste unies by dié toernooi, maar moes die knie voor die manne van Parys buig. Sentraal-Gauteng-oos, 2013 se unie van die jaar, moes met die derde plek tevrede wees. 

Die senior vroue se A-afdeling is deur Limpopo gewen, wat sekerlik een van die kleurvolste en geesdriftigste spanne by die toernooi was. Daar was geen perke aan hul entoesiasme en luidrugtige spankrete nie.

Gauteng-Suidwes (GSW) se vroue was tweede en het die eerste plek met die dikte van ‘n polonieskil gemis, terwyl Gauteng-Noord die derde plek ingeneem het. 

Volgens Johan Oosthuizen, president van Ringbal Suid-Afrika, was die toernooi ‘n sukses, maar daar lê steeds groot uitdagings vir dié sport voor. 

“Een van die groot bekommernisse vanjaar was die aantal beserings wat spelers opgedoen het. Ons kan nie bekostig dat spelers nie voorbereid is vir die toernooi nie – veral wanneer wedstryde in dié hitte gespeel word.”

Hendrie Jacobs (GSW) is vir die tweede agtereenvolgende jaar as beste skeidsregter aangewys terwyl die sekretaresse van die jaar aan Bets Stander van Sedibeng toegeken is. Ringbal SA se uitnodiging- en presidentspan speel op 23 en 30 Augustus onderskeidelik in ‘n aantal vertoonwedstryde in Middelburg en Durban.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button