Pumas wen, maar harde werk lê voor
Twee spelers van die Steval Pumas het 'n tweekuns in 'n andersins vervelige wedstryd teen die Boland Kavaliers op die Kees Taljaard Stadion Vrydag in Middelburg behaal.

Alhoewel die Laeveldspan ‘n oorwinning van 52-20 behaal het, lê daar nog baie harde werk voor vir die Curriebeker wat eersdaags afskop. Behalwe vir die gebrek aan vloei in die agterlyn, het die lynstane ook gesukkel en daar was heelwat hanteerfoute in die eerste
40 minute. Die Pumas sal hul verdediging óók moet opskerp.
Die Wes-Kapenaars se Nathaniel Manuel het eerste oor die doellyn geduik en Hendri Christian Rust het verdoel. Die heelagter van die Pumas, Coenie van Wyk, het skaars vier minute daarna sy span se eerste vyf punte aangeteken. Van Wyk wat deel van die Leeus se Superrugby groep was, verlaat die Laeveld en sal aan die einde van die jaar by die Toyota Cheetahs aansluit.
RW Kember het in die 17de minuut gedruk, maar die losskakel JC Roos het sy tweede skop pale toe verbrou. Na
26 minute was die spanne gelykop 10 elk met Boland wat met ‘n strafskop pale toe geslaag het. Roos het met ‘n drie en ‘n doelskop geslaag en die Pienkes het teen rustyd met 17-13 voorgeloop.
Die vlugvoetige vleuel Rosco Spekman het ‘n hou teen die kop gekry wat hom tot twee weke op die kantlyn kan hou.
Die kaptein van die Pumas, Corné Steenkamp, het net ná die afskop van die tweede helfte by die doellyn gaan kuier en weer teen die einde. Ruwellyn Isbell het in die 67ste asook in die 76ste minuut drieë gedruk. Justin van Staden het met albei skoppe geslaag. Van Wyk was op pad vir sy tweede drie, maar het besluit om die bal vir Vincent Koch te gee om ook te druk. Koch het sommer self die bal deur die pale geskop.
Die Laevelders speel Vrydag 1 Augustus om 16:00 teen die Blou Bulle op Mbombela Stadion – kaartjies is reeds by die stadion en by Computicket beskikbaar.
