Vrou durf koue aan om Rhodes-roete te voltooi
Een van Komatipoort se inwoners het op 11 Julie die ikoniese en asemrowende Rhodes-hardlooproete aangepak, te midde van uitmergelende koue en met die kwik op -9 grade Celsius.

Hierdie roete is in die Suidelike deel van die Drakensberge geleë.
Atlete kan slegs op uitnodiging deelneem en net 350 word elke keer toegelaat aangesien die roete so gevaarlik is.
Daar is ‘n lang waglys vir die gewilde wedloop. Indien jy reeds twee jaar lank op ‘n waglys is, mag jy met ‘n ander atleet se nommer hardloop.
Kitty Maree was reeds vyf jaar op hierdie waglys voordat sy haar eie nommer gekry het. Sy het reeds die afgelope drie jaar met haar eie nommer deelgeneem.
“Jy hardloop op kranse en in klowe en bokpaadjies en party plekke moet jy self sien kom klaar.
By die voet van Mavis Bankkloof klim jy twee kilometer tot op 2 500 voet bo seespieël.
Die lug word so dun dat jy sukkel om asem te haal. Dié jaar het dit op die plato gesneeu en hard in die vallei gereën toe ons klaarmaak. Sondagoggend met ons terugkeer was dit -9°C. Tot die waterpype was gevries,” het Maree vertel.
Die wedloop het in 1986, tydens ‘n gesprek tussen ‘n paar eienaars van eiendom in Rhodes, sy ontstaan gehad. Die idee was om Rhodes te bemark sodat dit nie vergete raak soos die geval is met sommige klein plattelandse dorpies nie. Hierdie geleentheid het gelei tot die geboorte van ‘n unieke item op die Suid-Afrikaanse sportkalender.
Daar is geen kontantpryse vir die voltooiing van die wedloop nie en afgesien van ‘n paar trofeë, kry al die atlete dieselfde behandeling en geskenkpakkies voor en na die wedloop.
