Plaaslike spierbouer reg vir volgende kompetisie
Hierdie plaaslike inwoner se volgende mikpunt is om haar professionele status te verkry
Dit sit nie in enigiemand se broekspype om binne drie jaar 20kg op tel waarvan 100 persent nét spiermassa is en boonop ‘n tweede plek by die Wêreld-liggaamsboukampioenskappe te verower nie – dit is sowaar ‘n groot prestasie.
Die spierbouer, Tessa Els (35) is reeds besig om vir haar volgende kompetisie, die Rossi Classic wat oor nege weke in Pretoria plaasvind, te oefen. Om ‘n streng dieet te volg ter voorbereiding daarvan, is geen nuwe uitdaging vir haar nie. “Ek is permanent op ‘n gesonde eetprogram. Daar bestaan nie so iets soos om op ‘n dieet te gaan of met een klaar te wees nie. Dit is ‘n leefstyl,” vertel Els.
In 2011 het sy net 57kg geweeg en vandag klok sy op 77kg in – sy het nie ‘n greintjie vet aan haar lyf nie. “Ek het darem nie ‘n soettand aan my nie, maar ek is mal oor ‘n stukkie biltong en sushi. Wanneer ons by vriende gaan kuier, pak ek vir my ‘n kospakkie in en ek eet daarvan. Ek moet ook baie water drink.” Op hoërskool het sy lang donkerhare gehad, sy was stil en teruggetrokke en het 100-persent skoolbywoning gehad.
Sy het ‘n uitgewerkte roetine voor sy op die verhoog stap en maak seker dat sy goed opwarm sodat haar spiere beter vertoon. “Die beoordelaars begin jou van onder evalueer. Alles moet in verhouding met mekaar wees – jou kuite, skenkelsenings, boudspiere, lae rug, skouers én jou arms. Jy draai daarna vorentoe en dan kyk hulle na jou bo-bene, maag, borsspiere en skouers.”
Sy kon nie uitgepraat raak oor hoe mooi Korea is nie en sê dat sy haar tyd daar baie geniet het. “Na afloop van die kompetisie het ons na ‘n klein eetplekkie toe gegaan waar ek ‘n dis met seekos en kool geeët het, dit was ongelooflik lekker gewees. Korea het om elke hoek en draai ‘n winkeltjie met tee en koffie – hetsy koud of warm. Al wat sleg was, was dat mens glad nie met hulle kon kommunikeer nie, want ons verstaan nie hulle taal nie.”
Een van Els se hoogtepunte was om saam met Cheryl Faust van Australië vir ‘n foto te poseer. Faust is ‘n bekende liggaamsbouer wat reeds in 2005 haar eerste kompetisie gewen het.
Haar grootste motiveerder, is haar man Piet wat groot skouers het en haar altyd bystaan. “Ek is nie een van die maklikste mense om mee huis te hou nie, maar die Here het vir my ‘n man met brieë skouers gegee.”
Hierdie plaaslike inwoner se volgende mikpunt is om haar professionele status te verkry. “Ek wil graag volgende jaar aan die Lee Priest Classic’s in Australië deelneem, mits ek betyds borge kan kry. Ek wil graag vir Eden en Hannes Wessels, Janet Kruger, Llewellyn Nell, Christopher Gouws, Andrè Kinnear, Niger en Nita Hollow, Sonja en Alexander Mcdonald en Alicia Whitting vir hul ondersteuning bedank. Dit beteken ongelooflik baie vir my.”
