Gekombineerde span skud sy vere reg vir sewestoernooi
Mauritius is bekend vir sy asem-rowende strande, warm seewater en gasvryheid, en in Oktober gaan daar nie net vakansie gehou word nie, maar ook sewesrugby gespeel word.

Die Spif Sport-uitnodigingspan is hard aan die oefen om seker te maak dat hulle slaggereed vir die Mauritius Sewes is wat van 7 tot 14 Oktober vanjaar plaasvind.
Dié uitnodigingspan bestaan uit rugbyspelers vanuit verskeie skole in die Laeveld, onder andere Lowveld High en Penryn College.
Spif Sport is ‘n maatskappy wat rugby ontwikkel en sportklere bemark. Hulle verskaf verskillende tipes sportklere en is tans besig om rugby in Mosambiek by die Maputo Rugbyklub te ontwikkel, volgens eienaar, Herman Kruger.
“Ons het in 2013 ‘n gekombineerde span wat uit Mpumalangaskole bestaan het na die Afri-Asia 7’s Toernooi in Mauritius geneem en redelik goed gevaar.”
Vanjaar is daar weer ‘n span gekies om die Laeveld daar te verteenwoordig. Mauritius Rugby-unie en Afri-Asia Bank bied die toernooi weer in 2014 aan.
“Ons het ‘n gekombineerde span wat saamgestel is uit spelers van verskeie skole in die Laeveld en die afgelope naweek was ons eerste saamtrek om voor te berei,” noem Kruger.
Volgens afrigter Gunther Swart, lê daar net twee maande se harde werk voor.
“Die spelers moet nog as ‘n span leer saamspeel.”
Spif Sport bied oor die volgende agt naweke sewestoernooie by verskeie skole aan onder andere, Lowveld High, Hoërskool Barberton,Hoërskool Kanonkop, Hoërskool Lydenburg, Hoërskool Patriot, Penryn College en Hoërskool Sybrand van Niekerk.
Volgens Kruger is dié gekombineerde span nog op soek na borge om hul reiskostes en ander kostes vir die toernooi te dek.
“Enige persoon of instansie wat graag van bemarkingsgeleenthede by die toernooie gebruik wil maak, is welkom om my te skakel.”
Navrae: Herman Kruger by 072-537-9041.
