NHS krieket kook!
Hoërskool Nelspruit se krieket het in volle swang afgeskop tydens die Mozzieweek wat vanaf 16-19 Julie plaasgevind het.

Nellies se eerstespan het die week op ‘n hoë noot begin deur Hoërskool Garsfontein in ‘n T20 wedstryd met 10 paaltjies te klop. Schalk Sutherland het 63 lopies nie-uit-nie aangeteken terwyl Bernard Vorster met 43 lopies nog staande was. Simon Geldenhuys is as die beste bouler van die dag aangewys, nadat hy twee paaltjies vir 23 lopies in vier beurte geneem het. Hy is goed bygestaan deur Armand Labuschagne wat 1 paaltjie vir 19 lopies in 4 beurte geneem het en Dean van der Merwe met 1 paaltjie vir 21 lopies in 4 beurte.
Die eerstespan het ‘n oorwinning van 1 paaltjie in ‘n naelbyt wedstryd teen Menlopark behaal. Bernard Vorster (45 lopies) en Stephen Kriel (42 lopies) was as die beste kolwers aangewys. Bernard het ook ‘n goeie vertoning gelewer deur 3 paaltjies vir 32 lopies in 10 beurte te neem. Armand Labuschagne neem 2 paaltjies vir 35 lopies in 9 beurte.
In die derde wedstryd van die week klop die Nellies, Hoërskool Wonderboom se eerstespan met 5 paaltjies. Bernard Vorster het weereens ‘n skitterende vertoning gelewer en 46 lopies nie-uit-nie aangeteken. Schalk Sutherland teken 41 lopies aan en Ruben de Lange en Simon Geldenhuys is as die beste boulers aangewys met ‘n ontleding van 3 paaltjies vir 21 lopies in 5 beurte en 2 paaltjies vir 14 lopies in 4 beurte onderskeidelik.
Die volgende uitslae is deur die O/15’s behaal:
- T20 vs Penryn: NHS verloor met 1 paaltjie
- 50 beurt vs Hoërskool Volkskool: NHS verloor met 29 lopies
- 45 beurt vs Vereeniging Gimnasium: NHS wen met 5 paaltjies
- 40 beurt vs Hoërskool Voortrekker Bethlehem: NHS wen met 23 lopies
