Tuisspan se bekerdrome in skerwe na Sasol wen
Die halfeindronde van die Mpumalanga Rugbyklub-liga is Saterdag tussen Witrivier en Secunda beslis, met eersgenoemde as die gasheer.

Op papier was Witrivier beter, en vir die grootste gedeelte van die eerste helfte het dit geblyk asof Sasol nie ‘n kat se kans
staan nie.
‘n Hele paar plettervatte het verhoed dat die opponente deur die gapings kon sny, maar min het die tuisspan geweet dat hul voorsprong van 6-0 van korte duur sou wees.
Dit blyk asof Sasol se wedstrydplan van nomineer en ondersteun later die geheim was om die voortou te neem. Soos ‘n jakkals op ‘n beseerde lammetjie, het Sasol op Witrivier toegeslaan. Rudi Vorster het oorgegaan vir hul eerste drie met ‘n suksesvolle verdoelskop deur die losskakel, Louis Kleinhans.
Dié hupstoot was presies wat Sasol nodig gehad het, en hulle het skielik begin speel asof hulle op hul eie tuisveld was.
Sasol het hul voorsprong teen elke koste beskerm, en dit het duidelik geraak dat hulle nie 300 kilometer gereis het om te
verloor nie.
Drie na drie het die manne in blou, sout in Witrivier se wonde gevryf. Tydens rustyd met ‘n telling van 7-6 in die guns van Sasol, het baie ondersteuners nog gedink dat die tuisspan ‘n terugkeer sou maak, maar die besoekers het vroeg in die tweede helfte weer punte aangeteken.
Witrivier moes talle kere, kop onderstebo na hul eie helfte terugstap om die opponente se volgende aanval te probeer verdedig.
Alhoewel die tuisspan se verdedigers ‘n drie 10 minute voor die einde gaan druk het, was dit heelaas te laat.
‘n Staatmaker en sonder twyfel die man van die wedstryd, Dirkie Lowies, het twee spogdrieë aangeteken.
Sasol het die wedstryd met 45-11 gewen en dus na die eindstryd deurgedring.
Die puntemakers aan die wenspan se kant: Rudi Vorster, Bates Alheit, Werner Joubert, Sibi Masina en Steven Jacobs, almal met een drie elk. Dirkie Lowies het twee drieë aangeteken. Louis Kleinhans het met twee doelskoppe en twee strafskoppe geslaag.
Die plaasvervanger, Steven Jacobs het saam met sy een drie, drie doelskoppe deur die pale gestuur.
Tiaan Marx van Witrivier het twee skoppe deur die pale geskop en TG Kruger is oor vir hul enigste drie.
Volgens Benny Pringle, voorsitter van Witrivier Rugbyklub, is hulle baie teleurgesteld in die tuisspan se spel. “Sasol het gekom om tewen. Ons fiksheid het ons in die steek gelaat en hulle was bloot die beter span op die veld, én daaroor gaan ek nie doekies omdraai nie,” het Pringle gesê.
