Skool laat nie gras onder hul voete groei nie
Hokkiespelers van Mbombela kan volgende jaar op Curro College se splinternuwe kunsgrasveld die bal aan die rol sit.

Dié privaatskool het Woensdag dié nuus gebreek en sal die tweede skool in die Laeveld en die derde in die provinsie wees wat so ‘n veld kry.
Uplands College in Witrivier het sy kunsgrasveld in 2007 gekry en was voor hierdie aankondiging die enigste skool in die omgewing met so ‘n veld. Witbank het ook kunsvelde. “Ons begin reeds in Augustus met die viermaandlange projek. Die bouwerk sal teen die einde van die jaar klaar wees. Met die aanbreek van 2015 se hokkieseisoen, sal die wedstryde nie meer op gras gespeel word nie, maar op die sandgeboude kunsveld,” het die hoof van die hoërskool, Andrew Collie gesê.
Curro het in 2012 sy deure oopgemaak en kan bekostig om die R4 miljoen-projek aan te pak. “Dit is ‘n groot aanwins vir dié sport – nie net vir die Laeveld nie, maar vir die hele Mpumalanga. Ons grootste doelwit is om die beste geleenthede vir die leerders te skep en om dié sport ‘n hupstoot te gee, moet ons beter fasiliteite hê,” aldus George van Rensburg van Curro Primary. Daar is tans 1 144 leerders met 19 hokkiespanne in die skool.
Die kunsgrasveld gaan in die middel van die atletiekbaan gebou word. Dié velde gaan ook klubs, afrigters en skeidsregters akkommodeer.
“Ons het ‘n hele paar innoverende idees soos ‘n hokkieakademie wat nie net vir Curro gaan baat nie, maar die hele Mpumalanga,” vertel Ryan McCarthy. ‘n Hoëprestasie-instituut is ook in die pyplyn.
Curro het tans vier provinsiale afrigters wat twee keer per maand na Witbank toe moet reis. “Dit is baie tydrowend om maandeliks daarnatoe te ry. Afrigterskursusse is ook iets waarna die Laeveld kan uitsien,” sê McCarthy verder.
