Presidentspan lig vir eerste keer die beker
Die 2013/2014 Pro Shop Mbombela Nett-gholfliga het na 10 maande tot 'n einde gekom. Altesaam 30 spanne van verskeie klubs het in vyf afdelings van ses spanne deelgeneem.

Elke afdeling se wenner, asook die beste drie naaswenners het in die kwarteindronde sake uitgespook. Daardie wenners het mekaar in die halfeindstryd aangevat en die finale twee spanne (Presidentspan en Lydenburg A) het in die eindstryd gespeel. Dié spanningsvolle wedstryd het in Pilgrim’s Rest plaasgevind. “Dit was ‘n besondere taai stryd – die telling was 4-4 en daar is toe ‘n uitspeelwedstryd gespeel.
Die kapteine moes toe hul uitverkose paar kies en weer op die veld stuur,” vertel die visepresident, Braam Haasbroek.
Na die eerste putjie, was dit steeds gelykop. Na putjie twee het die Presidentspan se Clayton Schmidt met ‘n besondere hou teruggeveg en die twee Lydenburgse spelers uiteindelik gesink.
Die Presidentspan kon vir die eerste keer in die geskiedenis van die liga die beker met trots omhoog hou. Namens die Laeveld Gholf- unie, wil Johnny Denny (president) en Braam Haasbroek (visepresident) al die spanne wat betrokke was in die seisoen, hartlik bedank. Baie geluk aan die wenners wat besondere karakter tydens dié seisoen gewys het.
“Ons is trots om met julle geassosieer te wees. Dankie aan Pro Shop wat die liga geborg het.”
