Pumas kom byna die mas op teen die Bulle
As jy Vrydagaand op Mbombela Stadion was tydens die opwarmingswedstryd tussen die Vodacom Blou Bulle en Steval Pumas, gaan jy beslis nou al kaartjieskantoor toe om jou sitplek vir komende Saterdag se kragmeting teen die Toyota Vrystaat Cheetahs te bespreek.

Die Stonehouse-troepe het nie net hul man gestaan in die kragmeting teen ‘n Bokbelaaide Pretoriaanse-span nie, maar ook ‘n duidelike boodskap gestuur dat hulle meer as gereed is vir groot rugby.
Alhoewel die gespierde breier, Jimmy Stonehouse effe ongelukkig was met sekere fasette van Vrydagaand se vertoning, was hy vol moed vir die seisoen.
“Ek is regtig nou moeg om te staan en sê dit was ‘naby genoeg’. Die tyd het aangebreek dat elke speler vir sy eie foutfaktor verantwoordelikheid dra.
“Op dié vlak is elke fout, klein of groot, punte teen jou, en die Bulle het dit Vrydagaand bewys.
“Ons sal beslis harder moet werk aan ons persoonlike strafskoptellings, die uitvoering van wat ons deur die week oefen en dan beheer neem wanneer ons bal in die hand het. Maak geen fout nie, ons is 100 persent daar en gereed om groot rugby te speel vanjaar.
“Ons manne het die fiksheid, krag en deursettingsvermoë om vanjaar die Laeveld nog trotser te maak,” vertel Stonehouse.
Die wedstryd het Vrydagaand op ‘n hoë noot afgeskop met die Pumas wat die besoekers permanent op die agtervoet gehad het, maar die Bulle het eerste bloed geruik om punte op die telbord te plaas.
Van toe af was dit ‘n wipplankryery wat die skare behoorlik op hul voete gehad het. As die Bulle gedink het hulle teken punte aan, het die Pumas met mening teruggeslaan.
So het die twee spanne tot op die laaste minuut die voortou geruil.
Dit was egter die Bulle wat die klein foute van die Pumas uitgebuit het om na ‘n drieëfees met ‘n wentelling van 46-38 van die veld af te stap.
Dean Greyling van die Bulle het ‘n paar keer oor die doellyn geduik met Jacques Engelbrecht, Akona Ndungane en Wiaan Liebenberg wat ook elkeen vyfpunters aangeteken het. Jacques Louis Potgieter was suksesvol met vier doelskoppe en Tony Jantjies met een.
Potgieter en Jantjies het elkeen ‘n strafskop deur die pale gejaag. Vir die tuisspan is drieë deur Ruwellyn Isbell, Reynier van Rooyen, Vincent Koch, Renaldo Bothma en Rosco Spekman gedruk met Justin van Staden wat vier uit die vyf kon verdoel. JC Roos het Spekman se drie verdoel en Van Staden was ook suksesvol met ‘n strafskop.
Die komende naweek skop die Curriebeker-seisoen amptelik af met die Pumas wat Saterdagaand om 19:10 teen die Toyota Cheetahs uitdraf. Die dag gaan aksiebelaai wees met twee voorwedstryde wanneer die Puma o/19- en o/21-span teen SWD speel. Kaartjies beloop R80 per volwassene en sluit ‘n parkeerkaartjie in. Skoliere betaal R20.
Parkering sal beskikbaar wees vir dié wat eerste opdaag. Geen uitsonderings word gemaak nie.
