Twee sleutelspelers dalk op beseringslys vir wedstryd teen die Cheetahs
Die Steval Pumas het Dinsdagmiddag hul span vir Saterdag se kragmeting teen die Toyota Vrystaat Cheetahs bekend gemaak.
Die drieë-koning, Rosco Spekman en die agterspeler, Jerome Pretorius is wel vir die wedstryd oorweeg, maar albei sukkel met beserings.
“Rosko sit met ‘n liesbesering, maar hy het vandag goed gelyk en Trompie het Maandag geoefen, maar vandag uitgesit. Ons sal teen môre weet of hulle reg sal wees,” aldus die afrigter van die Pienkes Jimmy Stonehouse. Hy meen verder dat hulle eerder die twee spelers langer ruskans sal gee mits dit nodig is as wat hulle Saterdag speel en moontlik seerkry en vir die res van die seisoen lans die kantlyn is.
Die Superrugbyspeler, Faf de Klerk is vir ses maande uit. Hy het sy ligamente gerek. “Ons sit met soveel opsies op skrumskakel. Reynier van Rooyen was uitstekend in die wedstryd teen die Bulle. Snake (Sinovuyo Nyoka) kan ook op nege uitdraf.”
Die losskakel, Justin van Staden begin wéér Saterdag in die no. 10-trui met JC Roos op die bank.
Die Pumas het Saterdag 46-38 teen die span van Pretoria verloor en beskou dit as ‘n ontspannende wedstryd. “Ons het baie veranderings aangebring en dit maak dit vir albei spanne maklik om spelers te gebruik wat nie op vorm is nie. Ek is baie tevrede met ons vaste fasette en ons skrums,” sê Stonehouse verder.
Die span se negatiewe uitkyk op die wedstryd was die aantal strafskoppe teen hulle. ‘Ek het vir die spelers verduidelik dat ons op dié vlak nie ongedwonge foute kan begaan nie.”
Die plaaslike span werk vir ‘n vyfde plek in vanjaar se Curriebeker-liga en sal nie graag weer in ‘n promosie-relegasie-wedstryd betrokke wil wees nie.
Die Pumas speel Saterdag om 19:10 teen die Vrystaters op Mbombela. Kaartjies beloop R50 vir ‘n volwassene en R20 vir skoolkinders.
Die span wat die Bloemfonteiners pak
1. Vincent Koch
2. Francois du Toit
3. DeJay Terblanche
4. Frikkie Spies
5.Marius Coetzer
6. Corne Steenkamp
7. Jaco Bouwer
8. Renaldo Bothma
9. Reynier van Rooyen
10. Justin van Staden
11. Rosko Specman
12. Stefan Watermeyer
13. JW Jonker
14. Ruwelyn Isbell
15. JW Bell
Plaasvervangersbank – Frankie Herne, Corne Fourie Giant Mtyanda, Uzair Cassiem, Sinovuyo Nyoka, JC Roos en Trompie Pretorius.
