Oud tot jonk swaai hul stokke vir kinders se klimraam
Kambaku Gholfklub het Saterdag 2 Augustus 'n spesiale gholfdag gehou om vir 'n klimraam by die nuwe speelplek geld in te samel.

Die klub beoog om gesinsvriendelik te wees en wil graag hê dat almal die geriewe moet geniet.
Die geleentheid het met 17 juniors, tussen die ouderdom van vyf en 13 begin, wat vier gaatjies aangepak het om te wys wat hulle die afgelope tyd by hul leermeesters, Rohan Greyvenstein en Juan Prinsloo, geleer het.
Daar is groot potensiaal onder die jongspan en die meeste van hulle het met groot selfvertroue reg gestaan. “Daar was nie eens ‘n ‘freshie’ geslaan nie,” het een van die ouers opgemerk.
Die kinders het duidelik die spel geniet en behalwe vir ‘n bal wat Corridor Gazette se korrespondent ligtelik getref het, en ‘n outjie benoud “askies tannie” laat uiter het, was dit vir die kinders en hul ouers ‘n heerlike ondervinding.
Ma of pa, sommiges self kranige spelers, moes gholfjoggie speel en het blinkoog hul aspirantspelers aangemoedig. Daar het ook ‘n beterbalkompetisie plaasgevind met 68 inskrywings.
Menige borge het die goeie saak ondersteun, soveel dat die klimraam reeds aangekoop kon word.
Die gemeenskap het wonderlik saamgewerk en dit is duidelik dat familiebelange en die uitbouing daarvan, belangrik in ons dorp is.
