Die klubkrieketseisoen is weer in volle swang – hierdie naweek speel spanne al hul derde wedstryde
Eerstespan wedstryde vandag: •Impala v. Mosambiek •Malekutu v. Nelspruit •LVCC v. Witrivier.

Die klubkrieketseisoen is weer in volle swang. Maar dis nie altyd net krieket op die veld nie. Nelspruit 2 het verlede week Saterdag hul klubkrieketwedstryd teen LVCC 2 met ‘n minuut van stilte vir Dudley Hatton-Jones begin. Hy was vir drie jaar die voorsitter van Nelspruit Krieketklub en is in Julie in ‘n ongeluk dood. Dit was ‘n hartroerende oomblik vir spelers van albei spanne wat mekaar op Hoërskool Bergvlam se veld gepak het.
“Hy het so baie gedoen vir krieket. Nelspruit het in ‘n stadium regtig gesukkel en hy het nuwe lewe daarin geblaas,” vertel een van die spelers.
LVCC het verrigtinge met die kolf geopen.
Paul van Wyk was die top lopiemaker met 67, asook Graham Hulley (32). Ruan Ras wat op nommer 10 gekolf het, se 34 lopies was ‘n onverwagse verrsassing vir almal. Garth Parrow was Nelspruit se voorste bouler deur drie paaltjies in agt beurte plat te trek. Cross kon ook twee kry in agt beurte.
LVCC het in totaal 239 lopies in die 40 boulbeurte gemaak. Nelspruit het van die begin af aanvallend gekolf. Openingskolwer Duane Cross het dit met 58 gelei. Slegs Johan Coetzer (36) en Barno Klue (33) kon hom in sy poging ondersteun.
Hannes Jacobs (8-0-37-3) het die grootste bydrae met die bal gelewer. Die wedstryd het dramaties geëindig toe Nelspruit vier lopies van die laaste bal gekort het om te wen. Hulle slaag uiteindelik wel daarin om om ook ‘n totaal van 239 aan te teken om die wedstryd gelykop te laat eindig.
“Dis iets wat Dudley sou wou hê,” het van die spelers later saamgestem.
Sien meer foto’s hier.

