Pumas kan nou voortbou op Stonehouse se fondasie
Na sewe suksesvolle jaar het Stonehouse besluit om sonnige Suid-Afrika vir Japan te verruil. Hy sluit in April as hulpafrigter by die Toshiba Brave Lupus-rugbyklub in Tokyo aan.
Skokgolwe is vroeër die week deur die rugbywêreld gestuur met Jimmy Stonehouse se bedanking as hoofafrigter van die Steval Pumas.
Na sewe suksesvolle jaar het Stonehouse besluit om sonnige Suid-Afrika vir Japan te verruil. Hy sluit in April as hulpafrigter by die Toshiba Brave Lupus-rugbyklub in Tokyo aan.
Dié span was vier keer die topligakampioene, en bekende spelers soos Frans Steyn van die Sharks en Tanerau Latimer van die Chiefs is vir die 2014/2015-seisoen gekontrakteer.
Veral sedert die Pienktruie in 2013 van Witbank na Mbombela geskuif het, het Stonehouse die Pumas gehelp om as een van die land se mees gerekende spanne gesien te word.
Onder sy bekwame afrigting is verskeie rekords opgestel en het die span twee keer na die Curriebeker Premierliga deurgedring. Stonehouse is verlede jaar as Absa Afrigter van die Jaar aangewys en die Pumas is as die span van die jaar gekroon.
Die hulpafrigter van die Pumas,
MJ Mentz, sal voorlopig die leisels as hoofafrigter oorneem. Die Mpumalanga Rugbyunie het in ‘n persverklaring gesê dat daar geen oorhaastige besluite ten opsigte van ‘n nuwe afrigter geneem sal word nie.
Behalwe die bedanking van Stonehouse het die unie vroeër hierdie week ook die aanstelling van ‘n nuwe hoofuitvoerende beampte en besturende direkteur by die kommersiële afdeling, Pieter Burger, bekendgemaak.
Burger is ‘n voormalige Hoërskool Nelspruit-matrikulant en het ‘n graad in sportbestuur en sy MBL deur Unisa voltooi.
Sy kennis van sportbestuur behoort handig te pas te kom in sy nuwe rol in die unie se stuur van kommersiële sake. Hy het voorheen in 2010 ook ervaring as projekbestuurder by ProTours (Buscor) gedurende die wêreldbeker opgedoen.
“My taak is om die Steval Pumas-handelsmerk algeheel te laat groei en seker te maak dat die grondslag van amateur tot topvlak in Mpumalanga-rugby gelê word.
“Dit is belangrik dat die Steval Pumas ‘n bekende handelsmerk in Suid-Afrikaanse rugbykringe word,” het hy in ‘n amptelike persverklaring gesê.
Burger het ook genoem dat dit belangrik gaan wees om die Laeveld-gemeenskap meer betrokke by die sosio-ekonomiese kant van sake te kry.
“Hulle is ‘n professionele span en ek glo al is daar baie harde werk die afgelope drie jaar in hierdie afdeling verrig, is daar steeds plek vir verbetering in die nuwe jaar om hulle verder te bemark.”
Burger het ook verder genoem dat daar na Stonehouse verlang sal word, maar dat hy ‘n grondslag los wat die Steval Pumas van krag tot krag sal laat beweeg.
