Wolves bemeester wapens
Wolves Akademie het verlede naweek hul eerste wapenseminaar vir 2015 aangebied met die besemstok, polisiewapen en oophandgevegte as fokus.

Suksesvolle selfverdediging verg tegniek, maar dit moet eenvoudig bly om prakties te wees. Wolves Akademie het daarom verlede naweek hul eerste wapenseminaar vir 2015 aangebied.
Meester Awie Davis verduidelik dat die karatekas hierdie basiese vaardighede tydens die werkswinkel aanleer en later daarop uitbrei in die klas. Dit berei die vegters vir gradering in verskillende, maar veral tradisionele wapens voor.
Hierdie sluit die besemstok (bong), kortstok, polisiewapen (tonfa), vuisysters (tekko), noentjakoe, mes- en oophandgevegte in. Soos Davis sê, dit is meestal algemene huishoudelike items wat jy tydens ‘n aanval in jou huis byderhand sal hê, wat dus prakties is.
“Jy kan enige stok gebruik. Ons leer jou hoe om dit te hanteer. Die handposisies en tegnieke om op die mees effektiewe manier jouself te verdedig,” sê Davis.
Die Vrydag en Saterdag het die Master Xander Davis by die do-young op die besemstok, polisiewapen en oophandgevegte gefokus. Laasgenoemde behels grepe en drukpunte waarop ‘n mens tydens ‘n geveg fokus.
In karate word verwag dat enigiemand met ‘n swartbelt al die wapens onder beheer het. Maar, voeg Davis by, jy leer die meeste as jy die bemeesterde tegniek aan ander begin oordra.
Nog seminare word later vanjaar beplan om ander wapens ook in te sluit. Navare: 082-939-8615.
Sien meer aksiefoto’s hier.
