NHS hou kop in Groot Vyf
Die skool se dogtersspan moes uitspeel vir plekke drie en vier en die seuns vir plekke vyf en ses.

Hoërskool Nelspruit (NHS) was vanjaar aan die beurt om die Groot Vyf Tennistoernooi aan te bied en die gashere het hul man gestaan teen hul sterk teenstanders.
Spelers van hoërskole Ermelo, Garsfontein, Middelburg, Monument, Waterkloof, Affies, Boland Landbou en HTS Middelburg het die hittige Laeveld en mekaar Vrydag en Saterdag op die baan trotseer. Die skakelbeampte van NHS, Liezel Haasbroek vertel die spelers het dit baie geniet ten spyte van die uiters warm omstandighede.
“Die skoolhoof Dr Louis Swanepoel het op sy entoesiastiese, opregte wyse die tennisspanne verwelkom. Die spelers het die toeskouers bederf met aanskoulike tennis.”
‘n Onverwagte storm het die spelers Saterdagmiddag ‘n bietjie lafenis gebied. “NHS se tennisspelers het moedig die stryd volgehou sodat die eerste dogtersspan teen Waterkloof moes uitspeel vir plekke drie en vier en die seuns teen Monument vir plekke vyf en ses,” vertel Haasbroek.
Maar weens die gevolglike gebrek aan tyd na die reënbui kon slegs die finale uitspeelwedstryde tussen plekke een en twee voortgaan. Afrikaanse Hoër Seunsskool het Waterkloof getroef, terwyl HTS Middelburg oor Afrikaanse Hoër Meisieskool getriomfeer het.
Onder die seuns het HTS Middelburg en Boland Landbou derde en vierde geëindig en Monument en Middelburg se dogters sou vir vyf en ses uitgespeel het.
- Sien meer foto’s hier.
NHS se tennisspelers was:
Eerste seunspan
Griffin Madden, André Vosloo, Louis Kok, Rudolf Sippel, Eugene le Roux, Schalk Schutte en Taillard Van Zyl.
Tweede seunspan
Brandon Smith, Bernard Smit, Jacques Vosloo, Kurt-Erwin Strauss, Stefan De Haas en Conrad Schultz.
Dogterspan
Lomé Smit, Marisia Itterhagen-Strauss, Salomé Atkinson, Anneri Mans, Danielle Van der Nest, Ané Van Vuuren en Mignon Joubert.
