Handjie vol eerstes vir Puma-span
Die Steval Pumas wil niks minder nie as vyf punte in hul sak steek met die afskop van hul Vodamcombekerveldtog teen die Down Touch Griffons Vrydagaand.

Die Puma-slot Eduan van der Walt (26) wie weens die Guillain-Barré-sindroom langer as ‘n jaar buite aksie was, sal die span weer aanvoer.
“Hy is ‘n speler wat die span kan lei en hy het al in die verlede gewys dat hy die regte man vir dié werk is.
Dit wat hy die afgelope tyd deur is het hom as mens sterk gemaak en niks is vir hom meer onmoontlik nie.
Hy is nog nie heeltemal waar hy moet wees nie, maar hy sal na die volgende twee wedstryde op spelpeil wees,” het die breier van die Pumas, MJ Mentz gesê.
Daar is ‘n hele paar eerstes: Mentz sal die span vir die eerste keer as hoofafrigter aanvoer.
Corné Steenkamp wat as kaptein van die Pumas in 87 wedstryde uitgedraf het, sit vanjaar langs Mentz in die afrigtershokkie en Van der Walt is amptelik vir die eerste keer as die Vodacombeker se kaptein gekies.
Vier spelers – almal voorspelers – maak hul debuut vir die Pienktruie. “Daar is ‘n hele paar nuwe manne voorlangs soos Khwezi Mona, Lambert Groenewald en Jason-Colin Fraser.
Ons is gelukkig om Stefan Watermeyer (senter) agter te hê waar hy baie ervaring en stabiliteit na die span toe bring.”
Die aanwins van die GWK Griekwas, Marnus Schoeman, kan óók ‘n kans kry om sy debuut van die bank af te maak.
Die plaaslike span wil graag met die bal in die hand speel en die besoekers van hul voete af hardloop.
Die span wat teen die Griffons gaan uitdraf is:
1. De-Jay Terblanche
2. Jacques Momberg
3. Khwezi Mona (debuut)
4. Jannie Stander (debuut)
5. Eduan van der Walt (kaptein)
6. Brian Shabangu
7. Lambert Groenewald (debuut)
8. Jason-Colin Fraser (debuut)
9. Reynier van Rooyen
10. JC Roos
11. Marcello Sampson
12. Stefan Watermeyer
13. Wilmaure Louw
14. Bernado Botha
15. Heinrich Steyl
16. Francois du Toit
17. Drew van Coller
18. Uzair Cassiem
19. Marnus Schoeman (debuut)
20. Sinovuyo Nyoka
21. Justin van Staden
22. Jerome Pretorius.
