Impalas mors met kampioene
Die "Bloumasjien" soos die Impalas hulself graag noem, het hul eerste ligawedstryd van die seisoen met 'n oorwinning van 37-3, Saterdag 7 Maart op hul tuisveld afgeskop.
KOMATIPOORT – Die “Bloumasjien” soos die Impalas hulself graag noem, het hul eerste ligawedstryd van die seisoen met ‘n oorwinning van 37-3, Saterdag 7 Maart op hul tuisveld afgeskop. Belfast, die ligakampioene van 2014, het lelik in die stof gebyt en moes maar die knie teen die tuisspan buig.
Die wedstryd was gekenmerk deur heelwat beserings wat die spel opgehou het. Belfast het in die 20ste minuut die eerste punte in die wedstryd aangeteken toe hul ‘n strafskop deur die pale gestuur het. Daarna het die Impalas wraak geneem en die besoekers kon nie daarin slaag om enige verdere punte aan te teken nie.
Die tuisspan het vyf drieë gedruk, met Frikkie Odendaal (2) en Juandré Wilkens, Martin Venter en Jan-Hendrik Odendaal elk een drie. Tiaan Nel het met drie doelskoppe en twee strafskoppe geslaag.
Die beste voorspeler was Human Kruger en Juandré Wilkens is aangewys as die beste agterspeler.
Die Impalas bedank die toeskouers vir hulle ondersteuning. “Ons is ‘n baie lekker groep spelers bymekaar, met ‘n ongelooflike gees onder die manne. Ons gaan alles gee om die dorp se naam hoog te dra tot die einde toe,” het een van die spelers baie duidelik gemaak.
Die borge uit die gemeenskap, die afrigters, Hannes Eloff en Ben Jordaan en die bestuur van die klub word ook bedank.
