Bergies wil nog atletiekrekords breek by nasionale byeenkoms
Die SA Kampioenskappe gaan vanjaar vanaf 19 tot 21 Maart in Germiston plaasvind en sal die atlete die perfekte platform bied om te wys wat in Laevelders steek.
Laerskool Bergland het to dusver ’n uitstekende atletiekseisoen gehad met hul atlete wat rekords laat kantel en eerste plekke opgeraap het. By die onlangse Mpumalanga-atletiekkampioenskappe vir laerskole wat op 7 Maart in Ermelo plaasgevind het, het vier atlete van die skool vir die Suid-Afrika Kampioenskappe gekwalifiseer.
Lourens Potgier, Kyla Labuschagne en Suzaan Nel gaan in die 0/13-kategorie deelneem terwyl Ryan Venter in die 0/10-kategorie gaan meeding.
Die SA Kampioenskappe gaan vanjaar vanaf 19 tot 21 Maart in Germiston plaasvind en sal die atlete die perfekte platform bied om te wys wat in Laevelders steek.
Hierdie jong atlete se oë het behoorlik geblink toe hulle meer oor hul passie vir atletiek moes uitwei. Kyla Labuschagne het ook die Mpumalanga-rekord in die dogters 0/13 se 200 meter met ’n blitsvinnige tyd van 26,69 gebreek.
“Dit was ’n wonderlike gevoel en ek hoop om nog beter te gaan doen en atletiek te geniet.” Kyla was ook al twee keer vantevore by die SA’s gewees en sal weet wat om by hierdie spogbyeenkoms te verwag.
Lourens het ook in die kort afstande uitgeblink en sal Mpumalanga in die toernooi as een van die vinnigste atlete in sy ouderdomskategorie verteenwoordig.
Suzaan Nel het ook ’n eerste plek in verspring, 100 meter asook ’n tweede plek in die 200 meter behaal.
“Dit is vir my lekker om atletiek te doen en my talent te gebruik,” het sy gesê.
