Jongman sit almal ore aan op die gholfbaan
'n Hoërskoolleerling en kranige gholfspeler is verlede Sondag na 'n skitterende vertoning as die Witrivier Gholfklub se kampioen aangewys.
Cameron Borcher, ‘n gr. 11-leerling van Hoërskool Rob Ferreira, het op 14 en 15 Maart aan die klub se jaarlikse kampioenskap-toernooi deelgeneem en was die eerste junior speler om dit te wen. Hy het gedurende die twee dae 74 en 74 houe oor twee rondes van 18 gaatjies gespeel.
Borcher sê hy swaai ‘n gholfstok rond sedert hy ses jaar oud is en speel meestal saam met sy pa en broer. “As ek gedurende die week ‘n gap tussen skoolwerk kry, probeer ek by die gholfbaan uitkom,” vertel hy.
Hy neem gereeld aan kompetisies deel en wil graag aan sy afrigter, Edwin Compton, dankie sê vir al sy hulp.
Die gholfspeler sê hy het nie ‘n spesifieke wenstrategie nie; solank hy weet dat hy sy beste op die baan gedoen het, is wen of verloor ‘n bysaak.
Sy rolmodel is Rory McIlroy, omdat hy nes Borcher van kleins af speel en ‘n goeie speelstyl het. “As hy sien hy doen sleg, probeer hy recover en fokus hy net op sy volgende hou,” verduidelik Borcher.
Hy sal graag na skool ‘n professionele speler wil word as hy die kans kry, maar sal dit andersins as ‘n stokperdjie beoefen. Hy sal ook graag nog Leopard Creek se gholfbaan wil aandurf.
Hy vertel beskeie dat dit lekker voel om so goed te doen en hy sal hard werk om volgende jaar sy titel te verdedig. Sy familie en vriende is ook baie trots op hom.
Borcher neem vandag weer aan ‘n toernooi by die Witrivier Gholfklub deel.
