Local sportSport

Curro-swemmer jaag haar drome na

'n Belowende jong swemmer van die Laeveld, Jordyn Minifie, het vir haar 'n plek na die Nasionale Jeugkampioenskappe losgewem.

Dié 13-jarige leerder van Curro Nelspruit gaan aan die 400- en 200-meter- individuele wisselslag (IW) deelneem.

“Ek verwag nie om ‘n medalje terug te bring nie.

Dit is ‘n wonderlike geleentheid waar ek daarop gaan fokus om my tye te verbeter,” vertel ‘n opgewonde Jordyn.

Die byeenkoms word van 13 tot 18 April by die Kingspark-swembad in Durban gehou.

Waaraan dink jy as jy op die blokke staan net voor die skoot afgaan? “My grootste vrees is dat ek dalk gediskwalifiseer gaan word. Ek het aan die begin gesukkel om die muur te raak soos ek van styl in die wisselslag moet verander, maar ek dink ek het dit oorkom.”

Sy het tydens vanjaar se interhoër by Van Riebeeckpark die 200-meter-IW in 02:32,43 afgelê. Die kwalifiseringstyd was 02:33,00.

Die 400-meter-IW met ‘n kwalifiserings-tyd van 05:24,01 het sy in ‘n blitsige 05:20,88 geswem. Sy is die enigste swemmer in die provinsie wat vir die
400 IW gekwalifiseer het.

“Verlede jaar November het ek nog ‘n 05:28,35 geswem. Ek het my tyd met agt sekondes verbeter, maar ek was stokflou na die tyd. Ek het eers met die laaste drie lengtes opgevang.”

Jordyn swem sedert 2013 by Uniswim onder leiding van Detlef Schmitz. Onder hom het Jordyn haar tyd met 25 sekondes verbeter.

“Hy is ‘n fantastiese afrigter en ons is ‘n baie lekker span. Die oefeninge is intens maar dit is waarvoor ek lewe.”

Haar sterkste kompetisie is die swemmer van Tuks, Kara Vermaak en Hanim Abrahams van die Westelike Provinsie.

Jordyn se toekomsplanne:
• Sy wil graag in die kortbad-gala wat Augustus in Pietermaritzburg plaasvind, uitblink.
• Gedurende die prestigegala in Junie, ook by Kingspark wil sy haar teen die topswemmers van die land meet.
• Haar langtermyndoelwit is om vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokyo te kwalifiseer.

Jordyn spog met die volgende toekennings:
• Sy was Mpumalanga se junior swemmer van die jaar 2013/14
• By die jaarlikse Valencia-gala het sy die trofee vir die beste individuele prestasie in die 100-meterborsslag verower.
• Die victrix ludorum-trofee is aan haar by die Barbertongala toegeken.
• Sy hou die rekord in die 200-meter- individuele wisselslag by die jaarlikse kleinprovinsiekompetisie by St Benedicts met ‘n tyd van 02:36,13.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button