Kragmeting teen Leeus is van kardinale belang vir die Pumas
Die Steval Pumas se Marnus Schoeman kan heel moontlik Saterdag teen die Xerox Golden Lions op haker uitdraf.

Die blondekop het sy buiging in die pienk-en-grystrui teen die Assupol Blou Bulle op 21 Maart op flank gemaak.
“Die besluit om hom van posisie te skuif is nie op hom afgedwing nie. Hy wil bitter graag op haker speel en hy het reeds die kopskuif gemaak. Dit is waar hy homself in die toekoms wil sien,” verduidelik die breier, MJ Mentz.
Dié wedstryd, wat Saterdag om 15:00 op Mbombela Stadion afskop, sal die mees senutergende stryd in die vyfde ronde van die Vodacombeker wees.
Die besoekers lê tans bo-aan die punteleer met 19 punte, die Pumas in die tweede plek met 16 en die Vodacom Blue Bulls derde met 14. Die Laevelders het twee weke gelede teen die einste Bulle net-net met 20-18 verloor.
“Die rustyd het die spelers ‘n kans gegee om weg te breek van rugby af sodat hulle lywe kan herstel. Behalwe vir ‘n bonuspunt, is ‘n wen vir ons baie belangrik. Die volgende drie wedstryde is vir ons van kardinale belang.”
Die Leeus is ‘n gebalanseerde span met voortreflike spelers soos Alwyn Hollenbach, Cyle Brink en Ruaan Lerm.
“Hulle het jong spelers wat deur hulle sisteem beweeg en ‘n mens weet nie wat om altyd van hulle te verwag nie. Ons het ‘n plan en hopelik kan ons dit Saterdag uitvoer.”
Mentz het 12 veranderinge vir die wedstryd aangebring wat geen verrassing is met die rotasiesisteem wat hy van die begin van die Vodacom-reeks ingestel het nie.
“Die groot ding is dat ons nie moet afwyk van ons doelstellings af nie. Ons gebruik die reeks om kombinasies uit te toets dat teen die tyd wat die Curriebeker begin, ons presies weet wat werk. Dit skep die geleentheid vir elke speler om sy kans te benut om vir ons te wys hy hoort in die span.”
Ses Pumas het voorheen die Leeutrui oor hul koppe getrek. Hulle is Rudi Mathee, Jason Fraser, Bernado Botha, Stefan Watermeyer, Jannie Stander en Lambert Groenewald.

