Jong swemmers reg vir land se bestes
'n Gedugte swemspan van die Laeveld is op pad na die Kingspark-swembad in Durban om aan die Suid-Afrikaanse Swem Jeug Nasionale Byeenkoms deel te neem. Dit vind van 13 tot 18 April plaas.

Cristelle Kriel, Jordyn Minifie en Liza-Mari Drummond van Uniswim Nelspruit is van die provinsie se mees belowendste swemmers.
Liza-Mari (15) het vir die 100 meter-vryslag gekwalifiseer. Sy het met 01:02 dié prestasie met splits van 46 sekondes bereik. Dit is ook haar persoonlike beste tyd.
Die twintigjarige Kriel van Mbombela, verskyn op die wêreldranglys in klas S14 vir atlete met leergestremdhede waar sy tans die rekordhouer in die 200 meter-rugslag is. Sy is óók vir die oefengroep vir die 2016 Rio de Janeiro Paralimpiese Spele gekies.
Die 13-jarige Minifie van Curro Nelspruit, gaan aan die 400- en 200-meter- individuele wisselslag (IW) deelneem. Die 400-meter-IW met ‘n kwalifiseringstyd van 05:24,01 het sy in ‘n blitsige 05:20,88 geswem. Sy is die enigste swemmer in die provinsie wat vir die 400 IW gekwalifiseer het.
Milan van Veenhuyzen gaan sy staal in borsslag, vryslag en wisselslag wys.
Nog ‘n swemmer, Kaleb van der Merwe, is gekies om op nasionale vlak aan die Suid-Afrikaanse Gestremde Swembyeenkoms deel te neem wat op 30 en
31 Maart in Johannesburg plaasgevind het. Hy het onlangs ‘n vierde plek op vlak-twee mans o/19 in die S8-kategorie behaal. Kaleb is ook deel van die span wat in die waters in aksie gaan wees.
Detlef Schmitz is sedert 2012 by Uniswim aan die stuur van sake en onder sy leiding het talle swemmers se tye geweldig verbeter. Hy is as die span se afrigter gekies en Madelein Kruger as die spanbestuurder.
Dit is hier waar die Springbokspan, wat deel van die Olimpiese swemspan is, verkies word.
Die span is:
Milan van Veenhuyzen
Chad Hawley
Mel Stronkhorst
Kaleb van der Merwe
Raymond de Freitas
Liza-Mari Drummond
Jordyn Minifie
Cristelle Kriel.
