Begeesterde Steval Pumas word Leeukos by Mbombela
Ongelukkig kon die tuisspan nie die segetog van die besoekers stuit nie, en moes met 'n nederlaag van 24-16 tevrede wees.
Uit die staanspoor was dit duidelik dat die Xerox Golden Lions en die Steval Pumas se naels geslyp was vir ‘n titaniese Vodacom-bekerstryd by Mbombela Stadion die afgelope naweek.
Ongelukkig kon die tuisspan nie die segetog van die besoekers stuit nie, en moes met ‘n nederlaag van 24-16 tevrede wees. Maar “tevrede” was ‘n woord wat maar skaars in afrigter MJ Mentz se woordeskat is. “Ons is baie teleurgesteld, maar aanvaar volle verantwoordelikheid vir die verloor,” sê Mentz.
Luister na die volle onderhoud hier. Also available in English.
Luister ook na die Leeus se kommentaar oor die wedstryd hier.
Dit was die Pumas se tweede agtereenvolgende nederlaag, dit nadat hulle hul eerste drie wedstryde oortuigend gewen het. Die Leeus is nog onoorwonne in die reeks.
Met pertinente gebiedsvoordeel was die tuisspan tot en met die 20ste minuut met 13-7 voor danksy ‘n welverdiende drie deur die regtervleuel Jerome Pretorius, asook twee strafdoele en ‘n doelskop deur JC Roos. Maar die Leeus se teenaanval het hulle die voortou besorg te danke aan ‘n strafdoel en sewe punte kort voor rustyd. ‘n Fout deur die besoekers reg voor die pale en ‘n suksesvolle strafkop het die punteverskil na slegs een verminder, steeds in die guns van die besoekers.
Vir die grootste gedeelte van die tweede helfte kon nie een van die spanne punte aanteken nie. Maar ‘n drie deur die Leeus en ‘n suksesvolle doelskop het die telling in die 70ste minuut na 24-16 gebring en was die spyker in die doodskis. Die Pumas het besef die kalf is in die put, maar selfs na talle desperate pogings in die laaste paar minute, kon die tuisspan steeds nie die mas opkom nie. “Ons kon net nie aan die gang kom in die tweede helfte nie, al was twee Leeu-spelers in die koelkas,” sê Mentz.
Die Leeus behou dus die boonste posisie in die Vodacombeker-punteleer in die Noordelike afdeling met 23, gevolg deur die Vodacom Blou Bulle met 19 en die Pumas met 16.

Mentz skryf die verloor aan gebrekkige afronding en talle kanse wat verbeur is, toe. “Dit is belangrik dat ons beter na die bal kyk, want op talle geleenthede was ons oor die voordeellyn, maar om een of ander rede het ons die bal verloor,” sê Mentz. “Daar moet hard aan ons afronding gewerk word,” sluit hy af. Die Pumas kom komende naweek teen die Luiperds op laasgenoemde se tuisveld te staan en op 24 April weer op plaaslike bodem teen die Hino Valke.
Ander interessante stories oor die Pumas
Kyk hier of Laevelder jou vasgevang het op kamera.





