Local sportSport

Pumas reg om Luiperds te pak

'n Droewige gees hang oor Potchefstroom nadat die NWU Pukke wéér nie vanjaar daarin kon slaag om die Varsity-beker te lig nie.

Die dorpie se rugby-treurmare kan na die naweek dalk voortduur met die dat die Steval Pumas die Luiperds pak.

Alhoewel die tuisspan drie weke gelede laas gespeel het, sien die Pumas dit nie as ‘n maklike stryd nie. “Ons het baie respek vir die Luiperds. Ek het self vir hulle gespeel, so ek weet hoe moeilik dit op Profert Olienpark kan wees. Na afloop van die Varsity-beker wat Maandag plaasgevind het, is daar ‘n hele paar Pukke in die span ingesluit,” noem die Pumas se breier, MJ Mentz.

Altesaam agt veranderinge is aan die beginspan gemaak, wat ook ‘n nuwe kaptein insluit. Die binnesenter, Stefan Watermeyer neem die kapteinskap by Eduan van der Walt oor en Frikkie Spies is die span se onderkaptein. Watermeyer kan moontlik vir die Emirates Lions se superrugby-veldtog ingespan word. “Stefan is beslis die week beskikbaar, maar as die kans daar is, kan hy nog vanjaar superrugby speel. Mits hy en Eddie nie daar is nie, is Lambert Groenewald ook ‘n goeie leier.”

Die pienk-en-grys-truie draf met ‘n nuwe agterste driehoek op met JW Bell op heelagter en Bernado Botha en Ruwellyn Isbell die twee vleuels. Daar is ook twee veranderinge op flank met Jaco Bouwer en Uzair Cassiem. Rudi Mathee trek die nommer-vier trui oor sy kop en Spies is die ander slot.

JC Roos wat in die Pumas se wedstryd teen die Xerox Golden Lions 12 punte pale toe verbrou het, begin weer.

“‘n Skopper is van kardinale belang. JC het sy drie moeilikste skoppe in ‘n ry oorgeklits en ek was oortuig daarvan dat hy sy skopskoen wéér aan het, maar toe mis hy maklike skoppe. Hy het dié week baie hard gewerk aan sy skoppe en ek glo daarin om hom nog ‘n kans te gee. Ek het wel gestoei met wie ek gaan begin Vrydag – Justin van Staden of vir JC. Ek het op skrumskakel verander en daarom het ek besluit om die kontinuïteit te behou.”

Hiérdie Vodacombeker-stryd skop om 16:30 af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button