Rob se atlete skitter by SA’s
Tydens die afgelope skoolvakansie, het die room van Hoërskool Rob Ferreira se atlete aan die jaarlikse SA Skole-atletiekkampioenskappe in Rustenburg deelgeneem.

Lente Pieterse het ‘n goud in die 4×400-meteraflos vir dogters o/19 gekry. Die spiesgooier Danél Bieldt het ‘n tweede plek behaal, ook vir dogters o/19.
Die o/17-dogter, Angela Carbone het ‘n brons in die 4×100-meteraflos om haar nek gehang.
‘n Verdere vyf atlete het daarna ook na die Atletiek Suid-Afrika-kampioenskappe in Bloemfontein vertrek. Lente en Kwandu Nhlabathi was die enigste twee atlete wat medaljes in die Rosestad vir hulle skool kon inpalm. Lente het dié keer ‘n derde plek in die aflos behaal. Kwandu het ‘n silwer, ook in die aflos, gekry.
Volledige uitslae
Rustenburg
• Lente Pieterse (o/19) – goud (4×400-meteraflos), vierde (100 meter), vyfde (4×100-meteraflos), negende (400 meter)
• Danél Bieldt (o/19) – silwer (spiesgooi)
• Angela Carbone (o/17) – brons (4×400-meteraflos), 10de (verspring)
• Edward Shabangu (o/19) – sesde (verspring), 10de (driesprong)
• Innocentia Nkwashu (o/17) – 10de (driesprong)
• Nathan Jones (o/19) – 12de (110 meterhekkies)
• Lusanda Mbatsane (o/15) – 15de (driesprong).
Bloemfontein
• Kwandu Nhlabathi (o/17) – tweede (4×100-meteraflos), 14de (200 meter)
• Lente Pieterse (o/19) – derde (4×400-meteraflos), 11de (400 meter), 11de (400-meterhekkies)
• Danél Bieldt (o/19) – sesde (spiesgooi)
• Innocentia Nkwashu (o/17) – 10de (driesprong)
• Nathan Jones (o/19) – 11de (100-meterhekkies).
“Danél en Lente gaan volgende jaar baie gemis word. Hulle het die afgelope vyf jaar die skool met trots en passie verteenwoordig en talle medaljes verower. Die hele Robbie-familie is baie trots op al die atlete en hul prestasies van die seisoen,” sê die atletiekorganiseerder, Stefan van der Merwe.
Swem: Suid-Afrikaanse nasionale byeenkoms vir vlak twee in Secunda
• Stefan Krieg behaal ‘n derde plek in die 50-meterborsslag.
Vlak een
• Carla Broodryk het aan die 50-meterrugslag, 200-meterborsslag, 100-meterborsslag en 50-metervlinder-slag deelgeneem. Sy het in al die items haar persoonlike beste tye geswem.
• Ronin Melman het die 50-meter-rugslag, 100-metervryslag, 200-meter individuele wisselslag, 100-meterrugslag, 200-meter-vryslag en 50-metervlinderslag geswem. Hy het in elke item persoonlike beste tye aangeteken.
• Mark Kauffman het persoonlike beste tye in die 100-metervryslag en 50-metervlinderslag opgestel. Hy het ook aan die aflositem vir sy klub deelgeneem en twee silwer- en een goue medalje gewen.

