Twee Pumas dalk eersdaags deel van die Bokke
Vincent Koch het sy debuut op vaskopstut verlede jaar vir die Steval Pumas teen die Cheetahs in 'n Curriebeker-stryd gemaak.
Sewe maande later is hy uitgenooi om vir ‘n Springbok-oefenkamp aan te meld. Die blondekop draf tans vir die Stormers se Super Rugby-reeks uit.
‘n Jaar gelede het Koch nog as loskopstut gesak. Sy pad na vaskopstut is een waar die saad al geplant is, toe sy vier jaar lange kontrak by die Blou Bulle nie hernu is nie. Daardie tyd het hy self nie veel hoop gehad om gou Curriebeker te speel nie. “Ek het glad nie verwag om ‘n uitnodiging te kry nie, dit was ‘n groot verrassing,” het Koch gister aan Laevelder vertel.
Uit die 19 nuwe gesigte in die oefengroep, was 16 reeds voorheen by die Bokke betrokke – hetsy deel van ‘n toer- of oefengroep. Nóg ‘n Puma, Faf de Klerk is een van die drie nuwes. Cheslin Kolbe staan ook ‘n kans om van die groen-en-goud se internasionale groep te wees. “Dit was nog altyd een van my groot drome om uitgenooi te word en dit sal altyd wees waarna ek streef,” sê De Klerk.

Daar sal twee oefenkampe gehou word – Koch en De Klerk sal 3 tot 6 Mei in Johannesburg vir die eerste kamp aanmeld en weer daarna in Kaapstad van 31 Mei tot 3 Junie.
