Jong gestremde reik na die sterre
Hoewel plaaslike swemmer Caleb van der Merwe die gebruik van sy regterarm heeltemal verloor het, is selfs dít nie genoeg om hom te kortwiek nie.

Hoewel plaaslike swemmer Caleb van der Merwe die gebruik van sy regterarm heeltemal verloor het, is selfs dít nie genoeg om hom te kortwiek nie.
Caleb het op die ouderdom van 11 tydens ‘n motorongeluk in 2009 beserings aan onder andere sy bragiale pleksus opgedoen. Dus is sy hele arm weens ‘n gebrek aan senuweetoevoer verlam. Hy het ook 60 persent van sy longkapasiteit verloor. Maar hy was nie gereed om op só jong ouderdom te gaan lê nie. Dis toé dat hy besluit dat swem die sport is wat hy wil beoefen, en nou is dié gr. 11-leerling van Hoërskool Nelspruit die een wat die toon in die swembad aangee.
“Aan die begin was dit baie sleg en ‘n groot aanpassing, maar nou is ek al gewoond daaraan.” Hy kan niks met sy arm optel nie, en het sy pa se hulp nodig met basiese daaglikse take, maar met die ondersteuning van sy vriende, afrigter en veral sy pa Gerhard, lei hy nou die lewe van enige normale 16-jarige. Hy het talent en wilskrag waarvoor baie net kan droom.
Dokters het vantevore in ‘n sewe uur lange operasie probeer om senuwees oor te plant in Dubai, maar dit was tevergeefs. “Eers het dit gevoel of ek wil gaan lê, maar ek het besluit dat dit my nie gaan onderkry nie,” sê Caleb. “Dit is fantasties dat hy ‘n sport gekry het waarvan hy hou en waarin hy goed is,” sê Gerhard. “Ek is geweldig trots op hom.”
Hy sê dat sy grootste held en inspirasie sy pa is, en dat niks van sy prestasies sonder hom moontlik sou wees nie. “My pa is altyd daar vir my en hy ondersteun my in alles wat ek doen.”
Van sy prestasies sluit in vyf goue medaljes tydens die Junior Para-kampioenskappe. Dit is in die 50-meterborsslag wat ‘n SA rekord was, 100-meterborsslag (ook ‘n SA rekord), 50-meterrugslag, 50-metervryslag en 200-meterborsslag. Hy was ook deel van die SA Senior ope-kampioenskap in Durban waar hy sy eie rekord in 50-meterborsslag gebreek het. Hy het ook hier ‘n bronsmedalje in rugslag verwerf en sy eie rekord verbeter.
Sy droom is om nou aan meer senior kampioenskappe deel te neem, en hopelik eendag vir die Paralimpiese Spele te kwalifiseer.
