Nellies se rugbyspanne sit vir Laeveld ore aan
Die Ford Nellie Leeus, soos Nelspruit se eerste span ook bekendstaan, was gans te flink vir Laeveld en het met 40-0 koning gekraai
Laerskool Nelspruit se rugby- en netbalspanne het weereens bewys dat hulle die voorloper in plaaslike sportkringe is, met ‘n reeks professionele vertonings teen Laerskool Laeveld verlede week.
Hierdie wintersportwedstryde het op Nellies se velde plaasgevind met die tuisspan wat die voordeel getrek het.
Die rugbyseuns het veral goed gevaar met die eerste en tweede spanne wat wegholoorwinnings behaal het en met uitstekende verdediging gekeer het dat Laeveld enige punte kon aanteken. Hulle kon net sewe punte in al ses wedstryde behaal.
Die Ford Nellie Leeus, soos Nelspruit se eerste span ook bekendstaan, was gans te flink vir Laeveld en het met 40-0 koning gekraai.
Die manne in swart het beslis soos ‘n donker donderstorm die Laeveld-spanne uit die veld geslaan.
Losskakel Nico Liversage het veral met sy taktiese en aggressiewe spel beïndruk en het baie gapings vir sy agterspelers geskep.
Twee drieë van buitesenter, Jacques Marais, was goeie voorbeelde hiervan. Marais het soos ‘n mes deur botter deur die verdediging gegly om onder die pale te gaan kuier.
Laerskool Laeveld se netbalmeisies het wel meer durf getoon en ‘n paar belangrike oorwinnings behaal met die eerste span wat ‘n 18-16 sege behaal het. Die o/13 B- en C-spanne het ook die mas met naelbytoorwinnings opgekom.
Netbal
• O/9 A: Nelspruit 2 – Laeveld 6
• O/9 B: Nelspruit 5 – Laeveld 4
• O/9 C: Nelspruit 2 – Laeveld 1
• O/10 A: Nelspruit 13 – Laeveld 4
• O/10 B: Nelspruit 17- Laeveld 4
• O/10 C: Nelspruit 12 – Laeveld 1
• O/11 A: Nelspruit 9 – Laeveld 15
• O/12 A: Nelspruit 13 – Laeveld 7
• O/12 B: Nelspruit 19 – Laeveld 4
• O/12 C: Nelspruit 27- Laeveld 0
• O/13 A: Nelspruit 16 – Laeveld 18
• O/13 B: Nelspruit 5 – Laeveld 10
• O/13 C: Nelspruit 9 – Laeveld 10.
Rugby
• O/9 B: Nelspruit 40- Laeveld 0
• O/9 A: Nelspruit 22 – Laeveld 0
• O/10 A: Nelspruit 10 – Laeveld 0
• O/11 A: Nelspruit 31 – Laeveld 0
• Derde span: Nelspruit 5 – Laeveld 7
• Tweede span : Nelspruit 24 – Laeveld 0
• Eerste span: Nelspruit 40 – Laeveld 0.
