Nellies seëvier in gesogte Tuks-reeks
Dit was 'n terugvegpoging soos nog min gesien.

Die tennistrofee in die Tuks-reeks staan vanjaar in Hoërskool Nelspruit se glaskas nadat die junior en senior spanne as wenners uit die titaniese stryd getree het.
Die skool is vir die eerste keer sedert 1995 as die algehele wenner aangewys. “Die oorwinning kan toegeskryf word aan baie harde werk, maar veral aan die spelers se entoesiasme en lojaliteit. Dit was sowaar Nellie-guts gewees,” sê ‘n trotse Sybrand Viviers, tennisvoog.
So het die aanloop tot die eindstryd gelyk:
Seniors
Die seniors het in die halfeindstryd teen Hoërskool Monument te staan gekom en 9-3 gewen. Daarna het hulle Marais Viljoen die stryd aangesê en 9-5 gewen.
Twee van die beste wedstryde was eerstens tussen Jacques Fourie en Julius Mutetwa. NHS se Jacques het skoonskip gemaak en 6-7, 6-3 en 10-6 gewen.
Alhoewel Nellies se André Vosloo teen Bongani Mutetwa verloor het, verdien hierdie wedstryd spesiale vermelding. André het 6-4, 3-6 en 2-10 verloor.
Juniors
Dit was ‘n naelbytstryd teen HTS Middelburg. Die span was 6-4 agter en hulle het op die einde die kragmeting met stelle gewen nadat hulle agt elk gelykop gespeel het. Hulle het Klerksdorp oortuigend in die halfeindstryd 9-1 geklop.
Met behulp van afrigters soos Leoni Myburgh, Charlotte Gericke en Viviers kon die spelers met trots hul teëstanders ore aansit.
“Dank en waardering aan die skool, beheerliggaam en alle tennis-ouers wat bankvas agter ons gestaan het.”
Die muurbal- en die seuns-hokkiespanne is ook as algehele wenners van die Tuks-reeks aangewys.

NHS het ‘n derde plek uit 16 skole ingeneem.


