Witrivier rugbyspelers seëvier oor Nelspruit tydens liga-wedstryd
Dit was 'n titaniese stryd tussen die aartsvyande met die rustydtelling 10-7 in Witrivier se guns.
Witrivier was lugtig in hul kragmeting met Nelspruit op eersgenoemde se velde. Die tuisspan het Saterdag in die sewende liga-wedstryd van die Laeveld-klubrugby met 24-14 geseëvier.
Dit was ‘n titaniese stryd tussen die aartsvyande met die rustydtelling 10-7 in Witrivier se guns. Nelspruit het in die tweede helfte van die kragmeting heelwat tempo verloor met Witrivier wat in die vaste fasette gedomineer het.
Pule Sibiya van Witrivier het sommer vroeg in die eerste helfte die eerste vyfpunter van die stryd aangeteken.
Die voormalige Pumas-losskakel wat deesdae op senter uitdraf, Tiaan Marx het die drie verdoel.
Lloyd Malatji het kort voor rustyd in die linkerkantse hoekvlag oorgeduik met ‘n onderskepdrie wat Nelspruit groot verligting gegee het.
Die Rooies se Ross O’Mahoney het in die tweede 40 minute die gaping tussen die twee spanne vergroot met ‘n drie en Marx het nog twee punte op die telbord geplaas.
Die skrumskakel van Nelspruit, Tjokkie van Tonder het nege punte vir sy span aangeteken.
Hy het ‘n drie in die 58ste minuut aangeteken en nóg twee punte bygevoeg deur die bal deur die pale te skop. Maar dit was nie genoeg nie.
Die voormalige speler van die Leeus, Jacques Kotze het in die 70ste minuut die sege vir Witrivier met ‘n drie behaal.
