Karatekas maak hulle merk
Gedurende die Shotokan Karate Nasionale Kampioenskap wat onlangs plaasgevind het, het Carien de Bruin van Witrivier Dojo die gesogte Shotokanbeker vir dames verower.
Dit is ‘n prestigetrofee vir dames kumite (gevegskuns).
De Bruin het eers die trofee vir die beste dame in die senior-kumite-afdeling gewen en daarna het sy aan die ope-afdeling deelgeneem waar sy gedugte en ervare teëstanders koel en kalm, die een na die ander ore aangesit het. Sy het óók ‘n bronsmedalje in die kata-afdeling verower.
Nog ‘n spanlid wat uitstekend presteer het, was Aden Haussmann wat eerste in die kata-afdeling gekom het en tweede in die seuns kumite-afdeling. Aden het ook die wisseltrofee vir die beste seunsdeelnemer tydens die kampioenskap verower.
Die twee boeties, Dawie en Uli Ruthven het ook hulle staal gewys in hulle onderskeie kategorieë – Dawie het twee bronsmedaljes gewen, onderskeidelik vir kata én kumite en Uli het ‘n goue medalje vir kumite gewen.
Die kampioenskap word een jaar in Gauteng gehou en die volgende jaar in Kaapstad. Dit is normaalweg nie ‘n kampioenskap met baie inskrywings nie, aangesien net die beste karateka landswyd toegelaat word om deel te neem. Die atlete moet ‘n hoër gradering as bloubelt hê om in aanmerking vir die toernooi te kom.
Die Wes-Kaap was vanjaar die algehele wenners, met Oos- Gauteng in die tweede plek en Noord-Kaap in die derde plek. Die Laeveld-span, wat met net vier leerders getoer het, het in die vierde plek geëindig.
