Glorie wink vir begeesterde Pumas
Die tafel vir die Vodacom-bekereindstryd is gedek: 'n uitgehongerde Puma-pak reis eerskomende naweek na Nuweland waar hulle die DHL Westelike Provinsie die stryd gaan aansê.

Die Laevelders het Vrydagaand op Emirates Airlinepark in Johannesburg tot hul tweede eindstryd in drie jaar deurgedring deur die onoorwonne Xerox Goue Leeus 43-20 te klop. Die streeptruie het hulle plek bespreek toe hulle die Blou Bulle Saterdag 10-6 gewen het.
Die Pumas se Blitsbok, Rosko Specman kan vir Saterdag se wedstryd oorweeg word nadat hy sopas van die Londen Sewes teruggekeer het.
Hy het reeds 24 drieë in net 34 wedstryde gedruk nadat hy tot voor verlede jaar byna ‘n drie per wedstryd gedruk het.
Die afrigters, MJ Mentz en Corné Steenkamp, kan besluit om Marnus Schoeman op haker te plaas. Hy het die afgelope naweek ‘n groot impak as baldraer en -jagter gemaak.
Die voormalige kaptein, Eduan van der Walt het ook hand opgesteek in die kragmeting terwyl Marius Coetzer ‘n briljante eerste helfte gehad het.
Die pienktruie se Marcello Sampson, Uzair Cassiem en Lambert Groenewald het gister vir skanderings gegaan. Die uitslae was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
