Atlete floreer in landloopliga
Die byeenkoms is deel van die Mpumalanga-uitdunne vir die nasionale kampioenskappe.

Saterdag was die vyfde been van die plaaslike landloopliga vir klubs en die organiseerders was beïndruk met die opkoms. Dis by Halls se sportgrond oorkant Mbombela Stadion gehou.
‘n Totaal van 183 atlete het deelgeneem. Daar was agt wedlope wat in verskillende kategorieë ingedeel is. Volgens die organiseerder van dié byeenkoms, Laerskool Bergland se Tiaan Basson, was die jongste deelnemer net ses jaar oud.
Hierdie ouderdom hardloop ‘n een kilometer wedloop. Die oudste atleet was 45. Die langste afstand is agt kilometer.
Die atlete en hulle ouers moes noodgedwonge die MTPA Laeveld Lugskou misloop toe die wedlope eers om 13:00 begin het. Maar die toegewyde ondersteuners het skaars agtergekom dat die vliegtuie se toertjies in die agtergrond sigbaar was. Hulle het net oë gehad vir die atlete en nie veel aandag aan enigiets anders gegee nie.
Hoewel baie leerlinge deelgeneeem het, vorm die byeenkoms nie deel van die landloopliga vir skole nie. Dit is deel van die Mpumalanga-uitdunne vir die nasionale kampioenskappe. Atlete moet ten minste aan vier van die nege bene deelneem. Hulle tye word dan gebruik om te bepaal of hulle aan die provinsiale kampioenskappe kan deelneem, waar die vinnigste hardlopers vir die nasionale kampioenskappe kan kwalifiseer.
Basson, wat ook die afrigter van Bergland se landlopers is, was baie tevrede met hul prestasies.
“Alles het glad verloop. Daar was genoeg mense. En die deelnemers het goeie tye gehardloop.”
Die volgende been is op 6 Junie in Tzaneen.












