Pumas reg om beker hoog te hou ondanks beserings
Die Laevelders het die Xerox Goue Leeus Vrydagaand in die halfeindstryd en die vorige naweek die GWK Griekwas uitgeskakel. Albei was wegwedstryde.
Die Steval Pumas het 2013 én 2014 se Vodacombekerkampioene uitgeskakel. Nóú is dit tyd om die wenners van 2012 te klop.
Die Laevelders het die Xerox Goue Leeus Vrydagaand in die halfeindstryd en die vorige naweek die GWK Griekwas uitgeskakel. Albei was wegwedstryde.
Die Pienktruie kon sedert die ontstaan van dié reeks nog nie die beker omhoog hou nie. “Ons kan dit vanjaar verseker doen en ons gee onsself daardie kans. Daar is nie ‘n manier wat ons op die veld stap sonder om ons allerbeste te gee nie. Ons het die afgelope twee naweke gewys ons kan weg van die huis af wen. Nuweland is nie maklik nie, en ons is skrikkerig vir ‘n nat bal, maar ons het daardie gees geskep om te wil wen,” vertel ‘n afrigter MJ Mentz vol selfvertroue.
Alhoewel ‘n beseringsramp die Pumas in hul halfeindstryd teen die Leeus getref het met Marcello Sampson (vleuel), Lambert Groenewald (flank) en Uzair Cassiem (flank) wat beseer is, klink Mentz nie bekommerd nie. Groenewald is wel gister fiks verklaar terwyl Cassiem nie oorweeg word nie. Die Blitsbok, Rosko Specman is Sondag in kennis gestel dat hy wel in die span ingesluit kan word en Sampson op vleuel sal vervang.
“Ek dink die kwaliteit en die waarde wat Rosko na die span bring as speler beteken baie vir ons. Kyk net hoe goed het Seabelo Senatla (ook ‘n Blitsbok) by die Stormers ingepas.”
Schoeman wat heeljaar op haker uitgedraf het, het teen die Leeus die nommerses-trui oor sy kop getrek en dit sal dom wees om hom nie dadelik in te span nie.
“Marnus het ons regtig opgewonde gemaak en ons het besef dit gaan moeilik wees om hom uit die span te laat. Dit wat ons in Jacques Momberg, skrumgewys op haker het, maak dit moeilik om vir Marnus op haker te begin.”
Wilmaure Louw en Jerome Pretorius begin met Marius Coetzer op slot.
