Impalas beïndruk met goeie spel
Die Impalas het albei hul onlangse wedstryde op Ohrigstad en Belfast gewen. Daar bestaan geen twyfel dat dié span een is om hierdie seisoen mee rekening te hou.
Hul het die manne van Ohrigstad op dié se tuisveld gewys wie is baas en die wedstryd met 16-8 gewen. Juandré Wilkens het die enigste drie van die wedstryd aangeteken. Chris Botha het 11 punte met sy skopskoen aangeteken.
Die dissipline in die span is goed en hul het die volle 80 minute goeie uithouvermoë getoon. Dit is duidelik dat hul fiksheidsprogram vrugte afwerp. Die klub is steeds besig om te groei en lê nou eerste op Laeveld 7 se lys presteerders. Hierdie wedstryd was die laaste in die eerste ronde.
Die wedstryd teen Belfast was die begin van die tweede ronde en die wedstryd teen dié dorp op hul tuisveld, was ‘n taai een. Die blou masjien se verdediging het deurentyd gehou en hulle aanvallende spel het die deurslag gegee vir hul ‘n oorwinning van 28-3.
Hul volgende wedstryd vind op 30 Mei teen Hazyview op die span se tuisveld plaas.
Die dorp se ondersteuners word vriendelik genooi om hul gewig agter hierdie talentvolle manne te kom ingooi. Die toegang by die hek is R15 per persoon en dit sal reeds teen 12:00 oop wees. Daar sal heerlike maaltye teen R30 per kop by die restaurant te koop wees en daar word ook ‘n dans na die tyd gehou.
