Jong tennisspelers gee hul beste
Die kontras in die seuns- en dogterskompetisie is die naweek weer mooi uitgelig toe die groot vier van tennis wéér baas was in 'n geslote tennistoernooi.

‘n Hoë hekkie het op Schalk Schutte gewag om teen sy gedugte teëstander, Griffen Madden as wenner van die baan te stap. Dit was ‘n naelbyter wat enige kant toe kon gegaan het, maar Schalk het met 6-4 en 6-4 koning gekraai. In die derde been van die toernooi, was Schalk óók baas toe hy Rudolf Sippel uit die kompetisie geboender het.
Die o/18-dogter Anneri Mans, wat in die vorige toernooi wat aan die einde van Februarie plaasgevind het, as naaswenner gekroon was, het Saterdag met 6-3 en 6-0 teen Jannete Booysen afgereken om dié keer as wenner uit die stryd te tree.
Die Boshoff-sussies, Clarissa en Arili, onderskeidelik o/15 en o/11, het albei hul wedstryde gewen. Clarissa het fluit-fluit 6-0, 6-2 teen Mignon Joubert gewen. Lize Oosthuizen wat in die derde been die wenner was, moes plek maak vir Arili wat haar Saterdag geklop het.
Die o/15’s se Conrad Schultz het sy teëstander, Matthys Wessels in die eindstryd met 6-1 en 6-0 uitgestof.
Die finale ranglys is nog nie beskikbaar nie weens spelers wat nog in uitspeelwedstryde betrokke is. Die interdistriktespan is na afloop van die toernooi aangekondig, maar weens uitspele kan die spanne nog nie bekend gemaak word nie.
Hier is ‘n paar aksiefoto’s : Vierde been van tennistoernooi lewer belowende spelers op
Geslote-vier toernooi
O/18 dogters
Wenner: Anneri Mans
Naaswenner: Jannete Booysen
O/18 seuns
Wenner: Schalk Schutte
Naaswenner: Griffen Madden
O/15 dogters
Wenner: Clarissa Boshoff
Naaswenner: Mignon Joubert
O/15 seuns
Wenner: Conrad Schultz
Naaswenner: Matthys Wessels
O/13 dogters
Wenner: Delaney Hattingh
Naaswenner: Matete Mabaso
O/13 seuns
Wenner: Robert Ferreira
Naaswenner: Ruan van Esch
O/11 dogters
Wenner: Arili Boshoff
Naaswenner: Lize Oosthuizen
O/11 seuns
Wenner: Bernard van Esch
Naaswenner: Wikus van Biljon.
