Local sportSport

Flink vleuel maak die verskil

n Driekuns deur Hoërskool Nelspruit se vleuel, Eduan Engelbrecht, het verseker dat die eerste rugbyspan met 'n 34-19 oorwinning teen Hoërskool Middelburg na die eindstryd van die Mpumalanga Makro Skoletoernooi deurdring.

‘n Driekuns deur Hoërskool Nelspruit se vleuel, Eduan Engelbrecht, het verseker dat die eerste rugbyspan met ‘n 34-19 oorwinning teen Hoërskool Middelburg na die eindstryd van die Mpumalanga Makro Skoletoernooi deurdring.

Die Rhinos XV, gaan nou hul visier moet verskerp wanneer hulle in die eindstryd teen nóg ‘n Middelburg-opponent, die Rooi Bulle van HTS Middelburg te staan gaan kom.

Dit was nie ‘n maklike oorwinning nie – Middelburg het meerderheid van die balbesit in die eerste vyf minute gehad. Die Rhinos se verdediging het wel sterk gestaan met vaskopstut, Dewald Maritz, en sy medevoorspelers wat hul teenstanders gestuit het.

Flink werk van losskakel Wessel Muller het vir Marnus Kruger in ‘n gaping laat deurbreek en hy het lag-lag tussen die pale gaan kuier om die eerste drie aan te teken.

Hierdie geluk was kortstondig met Middelburg wat aanhou druk toegepas het met hul sterk span.

Chris Hanekom, losskakel van Middelburg, het die Rhinos met sy akkurate skopskoen laat les opsê en het vinnig die telling na 12-10 in Middelburg se guns geswaai.

Middies was wel nie gereed vir die Engelbrecht-aanslag wat op hulle sou losbreek nie. Hy het met sy sterk lopies gereeld vir regtervleuel Lebogang Moloka besig gehou met soms drie Middelburg-spelers wat nodig was om hom grond toe te bring.

Engelbrecht het kort hierna deur die verdediging geglip en oor die doellyn vir sy eerste drie van die wedstryd geseil om net voor rustyd die telling in Rhinos se guns met 15-12 te swaai.

Met die aanbreek van die tweede helfte het Engelbrecht sy tweede drie aangeteken met Muller wat verdoel het.

Engelbrecht het met sy derde drie en hiermee sy derde driekuns van die seisoen gevier. Hy het nou 17 drieë in 13 wedstryde gedruk.

Dawid Jacobs het ook sy naam op die telbord met ‘n vyfde drie geplaas voordat Middies met vier minute speeltyd oor hul eerste drie in die hoekie aangeteken het.

Met die blaas van die eindfluitjie het Rhinos hul plek in die eindstryd verseker.

Kyk na foto’s van die Rhino’s se wedstryd teen Middelburg

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button