Local sportSport

Liggaamsbou maak deure oop na roem

"Jy as vrou hoef nie steroïede en verslankingstablette te gebruik om swaar gewigte te kan optel om soos 'n man te lyk nie."

Só sê die 2015 Internasional Federasie van Liggaamsbou en Fiksheid (IFBB) Mpumalanga se amateurkampioen, Nicky Nel.

Na vier jaar van ‘n tuimeltreinrit, is die gespierde haarkapper terug op die podium met haar eerste titel.

Nicky Nel

“Dit was ‘n ongelooflike ondervinding, maar ek was tam en moeg.

Ek was so geskok toe die beoordelaars my naam roep, maar terselfdertyd dankbaar en vir die eerste keer het ek gevoel dat harde werk beloon word. Ek het dadelik na my ondersteuners in die gehoor gekyk en my beste vriend, Morné Smith het beslis die hardste geskree!”

Nicky Nel
Nicky Nel en haar beste vriend, Morné Smith.

Die 22-jarige se grootste doelwit is om mettertyd in die sport te groei en hard te werk om voor te berei vir die provinsiale kampioenskappe wat in Augustus plaasvind.

“Die Suid-Afrikaanse kampioenskappe is net vier weke daarna, maar ek gaan nie daar stop nie. Jy begin eintlik al 16 weke voor ‘n kompetisie teen jouself kompeteer.”

Sy het as 17-jarige hard begin oefen en selfs verbode middels gebruik.

“Ek het steroïede-woede gehad, ‘n erge aggressie en vyandelikheid.” ‘n Dokter het Nel van die newe-effekte van opkikkers vertel en na ‘n groot skrik het sy dit heeltemal gelos.

“Ek het nooit weer daardie snert gebruik nie en ek sal ook nooit weer nie.

Ek is mal daaroor om ander jong meisies en selfs vroue te help om goed te lyk en nooi mense uit om my op my reis te vergesel.”

Tydskrifuitknipsels pronk steeds teen haar muur as motivering om haar droom na te jaag.

“Op ‘n stadium sal groter borge my wel raaksien en ek glo ek gaan nog groot hoogtes bereik. Ek doen dit omdat ek lief is vir die sport. Ek is nog jonk en ek weet wat ek wil doen en ek gaan nie sommer dat iemand in my pad staan nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button