Nelspruit slaggereed vir kragmeting teen Witrivier
Nelspruit se eerstes het met 41-34 die mas opgekom terwyl die tweede span hul teenstanders met 41-22 gesink het.
Nelspruit Rugbyklub se eerste en tweede spanne het die naweek met Sasol Secunda op eersgenoemde se tuisveld in vriendskaplike wedstryde afgereken om hulle goed vir die naweek se groot eindstryde teen Witrivier Rugbyklub in die Laeveld-rugbyliga voor te berei.
Nelspruit en Sasol Secunda se eerste spanne het albei hierdie naweek loslootjies gehad en die tyd goed benut om in ‘n Laeveld- en Hoëveld-kragmeting mekaar weer aan te vat. Nelspruit se eerstes het met 41-34 die mas opgekom terwyl die tweede span hul teenstanders met 41-22 gesink het.
Nelspruit se eerstes het hul wedstryd goed begin met die blitsige Lloyd Malatji wat binne die eerste vyf minute agter die pale gaan kuier het.
Secunda het wel met aanhoudende druk die voortou vir die eerste keer in die rondomtaliewedstryd geneem toe Pieter Streicher met ‘n drie sy spanmaats in ekstase gehad het.
Deon Pruis se vernuftige skopskoen het met ‘n straf- en ‘n doelskop vir Secunda ‘n 10-5-voorsprong besorg.
Damien Janse van Rensburg het vir Nelspruit met nog ‘n drie weer terug in die wedstryd gebring, maar Tjokkie van Tonder kon nie verdoel nie.
Nelspruit se sterslot, Gary Visagie, het weer sy waarde as baldraer bestempel toe hy soos een man deur Secunda se verdediging vir een van sy twee drieë gebars het.
Die het die telling na 17-17 gebring voor die fluitjie die spelers ‘n welverdiende ruskans besorg het.
Die aksiebelaaide wedstryd het met die begin van die tweede helfte nie enige tempo verloor nie met Darren Berry wat mooi oor die doellyn gestrek het ondanks Sasol Secunda se vasberade verdediging. Agsteman, Japie Bester het ook sy naam op die telbord vir Nelspruit gevoeg wat die telling na 27-17 verskuif het.
Sasol Secunda moes vir die meerderheid van die tweede helfte vasbyt om by Nelspruit te bly nadat Visagie en Malatji albei hul tweede drieë binne vyf minute gedruk het. Sasol Secunda het ook drie drieë in die doodsnikke van die stryd gedruk om die telling tot by 41-34 te staan te bring.
Dit was duidelik dat die Nelspruit-manne se gô in die laaste vyf minute uit was met Secunda wat sonder veel teëstand ‘n laaste paar drieë gedruk het.
Nietemin was dit ‘n goeie aggressiewe en aanvallende vertoning van die tuisspan wat nou alles sal inspan vir hul groot kragmeting waar ‘n paar van die Pumas-spelers ook in albei spanne se vyftientalle gaan speel.
