Oud-Nellie nou ‘n Blitsbok
Dié span sal later vandeesmaand aan verskeie sewestoernooie in Italië en Switserland deelneem.

Die naam Daniel Maartens was op almal se lippe met sy rugbyvertonings vir die Shimlas tydens die Varsitybeker en binnekort sal hy ook vir die Blitsbokke uitdraf. Maartens, wat by 2013 by Hoërskool Nelspruit (NHS) gematrikuleer het, is na die proewe wat onlangs in Stellenbosch plaasgevind het waar hy tot die Blitsbokke Akademie-span verkies is.
Dié span sal later vandeesmaand aan verskeie sewestoernooie in Italië en Switserland deelneem.
Die Roma-toernooi, wat in 2013 en 2014 deur Suid-Afrika gewen is, vind op 12 en 13 Junie by die Acqua Acetosa Stadium plaas. Daarna sal die span na Switserland reis om op 19 en 20 Junie aan die Geneva-sewes by die Sportif du Bout du Monde-sentrum deel te neem.
Volgens Gerhard Holtzhausen, afrigter van NHS se eerste span, is Daniel ‘n spelskepper met ongelooflike spoed vir ‘n losvoorspeler.
“Hy is weens sy lengte vir vyftienman-rugby oorgesien, maar sal met sy spoed, aanvoeling en goeie verdediging sekerlik tot sy reg kom by sewes.”
