Jong stoeier wys sy staal in Egipte
Wat Johnny se prestasie nog meer merkwaardig maak is dat hy tans twee jaar agter sy teenstanders is wat meestal 16 tot 17 jaar oud is.
Nelspruit Stoeiklub se jong stoeisensasie, Johnny Smit (15), het weereens bewys dat vrees hom nie onderkry nie toe hy teen ervare stoeiers by die Afrika-kampioenskappe in Egipte ‘n vierde plek in die 42 tot 46kg Grieks Romeins-afdeling gekry het.
Die kampioenskappe het vanaf 23 tot 28 Mei vanjaar plaasgevind waar Johnny goeie ervaring in die kadetafdeling opgedoen het, aangesien dit sy eerste Afrika- kampioenskappe was.
Die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie het ‘n kadet-, junior en senior span na Alexandria in Egipte gestuur waar strawwe kompetisie op die plaaslike stoeiers gewag het.
Die kadetspan het uitgeblink en tweede geëindig. Die kadette het twee goue, drie silwer- en vyf bronsmedaljes ingepalm.
Wat Johnny se prestasie nog meer merkwaardig maak is dat hy tans twee jaar agter sy teenstanders is wat meestal 16 tot 17 jaar oud is.
“In stoeiterme is Johnny nog ‘n baba aangesien meeste van die kadette 17 is, maar hy het hom rêrig goed van sy taak gekwyt. Ek is baie trots op hom en sien uit hoe hy as stoeier gaan ontwikkel,” vertel Hansie Kruger, sy afrigter by Nelspruit Stoeiklub.
Johnny se sterk punt lê ook daarin dat hy al vanaf ‘n jong ouderdom stoei en stelselmatig en natuurlik as stoeier groei.
“Hy is geweldig gedissiplineerd en werk ook baie hard tydens oefeninge. Sy ouers motiveer hom ook baie en woon toernooie by. Dit help baie om passie en ‘n goeie ondersteuningsraamwerk te hê,” vertel Kruger. Dit blyk dat dit net ‘n kwessie van tyd sal wees voor Johnny met ‘n paar medaljes sal terugkeer in die komende jare en hy is definitief ‘n stoeier om dop te hou.
“Ons almal hier by Nelspruit Stoeiklub is ongelooflik trots op hom en sien uit na wat die volgende paar jaar gaan bring.”
