Koch op die bank vir Springbokke
Die Steval Pumas se vaskopstut, Vincent Koch is Saterdag op die reserwebank vir die Springbokke se kragmeting teen 'n wêreldspan op DHL Nuweland in Kaapstad.
Die Steval Pumas se vaskopstut, Vincent Koch is Saterdag op die reserwebank vir die Springbokke se kragmeting teen ‘n wêreldspan op DHL Nuweland in Kaapstad. Die span is Woensdag aangekondig.
Victor Matfield sal die Bokke aanvoer, met Warren Whiteley wat sy buiging vir die Groen en Goud sal maak.
Jesse Kriel saam met Koch is die enigste ander twee spelers wat nog nie voorheen vir die Bokke uitgedraf het nie. Die breier, Heyneke Meyer sê: “Whiteley, Kriel en Koch was puik in die Vodacom Superrugby-reeks en hulle verdien hierdie kans. Ek is opgewonde om te sien hoe hulle op hierdie vlak vaar. Ek het nog altyd Vincent se loopbaan gevolg en hom daarvolgens beoordeel. Hy het onlangs merkwaardige verbetering getoon, wat bewys dat harde werk vrugte werp. Hy het ook bewys dat iemand van die sogenaamde kleiner unies, Springbokke kan word.”
Jean de Villiers begin ook op die bank en kan moontlik later as impakspeler ingespan word. Faf de Klerk sal nie die naweek ‘n kans gegun word om sy stempel af te druk nie. Meyer het besluit om Ruan Pienaar op skrumskakel te begin met Cobus Reinach op die plaasvervangersbank.
