Ironman is nie gemaak vir informele drawwers nie: het jy wat dit vat?
Fietsryer vertel hoe hy binne 'n jaar in 'n ironman kon verander.
Die Ironman-driekamp word wyd beskou as een van die taaiste eendag-uithouwedrenne in die wêreld. Dit verg harde werk, toewyding en uithouvermoë.
Gerry Engelbrecht kan hiervan getuig. Hy het vroeër vanjaar sy eerste Ironman voltooi, en dit nadat hy slegs ‘n jaar daarvoor geoefen het. In April verlede jaar het hy nogal oor ‘n bier saam met pêlle besluit die Ironman sal ‘n, uhm, aangename uitdaging wees.
“Dit was belaglik. Ouens het vir my gelag,” sê hy.
Hy het in Januarie ‘n halwe Ironman voltooi en toe in April die Standard Bank Ironman in Nelson Mandela-baai te Port Elizabeth aangepak. Met ‘n vollengte Ironman swem deelnemers 3,8 kilometer, ry 180,2 kilometer fiets en hardloop ‘n 42,2 kilometer marathon. Hulle het net 17 uur om die eindstreep oor te steek. Gerry kon dit in 15:52 klaarmaak.
Hy was nou nie juis ‘n sofa-pokkel voor die tyd nie, maar die Ironman is nie gemaak vir informele bietjie-drawwers nie. “Dis drie verskillende items. Dis soos om die Cape Argus Cycle Tour en Comrades-ultramarathon en Midmar-myl in een dag te doen,” verduidelik hy.
Gerry is eintlik ‘n fietsryer. Dit was destyds bloot ‘n tydsverdryf. Hy het in 2009 die eerste keer aan die Argus deelgeneem. Maar dít is ook eers so drie maande voor die tyd besluit in die trant van, “Kom ons gaan ry die Argus”. Hy het die tog aangepak, en voltooi. “Dit was ‘n massiewe prestasie,” wys hy met reg uit.
Dit het egter stelselmatig verander. Hy het ander padfietsresiese soos 94.7 by sy program begin insluit, en toe stadiumrenne begin doen, soos die drie-dag Panorama-toer.
Die inspanning was weereens ‘n lekker uitdaging vir Gerry, maar dit was gou weer tyd vir ‘n nuwe een, hierdie keer in die vorm van driekamp. Dit was tydens een so ‘n wedren dat die groot verandering ingetree het. “Ek het gesien ek het deursettingsvermoë.”

Vandaar was dit nie so ‘n groot sprong Ironman toe nie.
Hy waarsku, “Dis belangrik om ‘n plan en visie te hê. En deursettingsvermoë. Dit is nie maklik nie.”
Met die Ironman kon hy die swem in ‘n tyd van 1:28 voltooi, die fietsry in 7:09 en die hardloop in 7:17.
Laasgenoemde is vir hom die moeilikste en in enige driekamp is dit die laaste item. Hy was dus al vir nege uur op die pad toe hy dié 42 kilometer moes aanpak.
Gelukkig was sy vriendin Cordelia Möller naby vir ondersteuning en aansporing. Hy gee ook die afrigter wat hy in Desember aangestel het krediet dat hy hom deur sy eerste Ironman gekry het. Tipies oefen ‘n mens 10 tot 12 per week. Nader aan die wedren vermeerder dit na 13 tot 15 ure.

Uiteraard het dié toewyding sy lewe verander. Die partyjiedier is getem, sê hy. Gelukkig het die driekamp-gogga ook vir Cordelia beetgekry. Slegs ‘n maand later was hy egter terug op sy bergfiets met die joBerg2c, ‘n nege-dag lange avontuur oor berge en dale. “Die beginsel is dieselfde: deursettingsvermoë.”
Nou oorweeg hy dit wel om die bergfiets te bêre en voltyds op driekamp te fokus, maar met die seisoen wat die afgelope naweek tot ‘n einde geloop het, neem hy eers ‘n blaaskans tot November.
“Jy moet nooit opgee nie,” sluit dié Ironman af.



