Pumas is honger vir haaivleis
Die Laevelders skop hul Absa Curriebekerveldtog vandag om 18:00 by Mbombela Stadion teen die Durbaniete af.
Die Steval Pumas skrik nie vir Cell C Sharks met groot tande soos Joe Pietersen, Lionel Cronje of Lourens Adriaanse nie.
Inteendeel Faf de Klerk, Rosko Specman en Giant Mtyanda laat enige speler se broek behoorlik bewe.
MJ Mentz wat vanjaar sy eerste proe as hoofafrigter kry, is tevrede met sy span se voorbereiding. “Mens kan nie altyd opwarmingswedstryde lees nie, maar dit was goed in die sin dat spelers wedstrydtyd gekry het.”
‘n Stukkie goeie nuus is dat skrumskakel, Faf de Klerk, vir dié wedstryd beskikbaar is en sommer dadelik ingespan is. “Faf speel beslis die naweek. Daar is nie ‘n manier wat ek hom nie sou kies nie. Hy bring ervaring na die span. Met sy spelpeil in Superrugby kan niemand met my stry dat ek hom nie dadelik kan inspan nie.” Alhoewel hy nog nie vanjaar saam met sy spanmaats in die Laeveld geoefen het nie, weens sy verpligtinge by die Leeus, voel Mentz dat hy maklik ingepas het.
“Daar is altyd ‘n klein stemmetjie in my agterkop, maar ons as spanbestuurders het saam besluit dat hy ‘n kwaliteitspeler is wat ons nie miskyk nie. Ons glo hy sal reg wees vir vanaand se kragmeting.”
Die dat Vincent Koch (Springbokke) en Renaldo Bothma (Namibië) nie beskikbaar is om in die Curriebeker te speel nie, hou Mentz nie uit die slaap nie. “Daar is beslis impakspelers soos Giant en Corné (Fourie).
Die Sharks is ‘n jong span met baie talent. Hulle sal ons voorlangs wil vat, maar ons is nie seker watter tipe wedstryd ons van hulle kan verwag nie. Ons gaan fokus op dit wat ons wil doen. Ons is ‘n fikser span as verlede jaar dié tyd.”
Die Steval Pumas se drie steunpilare – fiksheid, kondisionering en vaste fasette, gee hulle hoop om ‘n suksesvolle reeks te hê.
Die Pumas o/21 en die Pumas Laeveld speel om 15:15 in ‘n voorwedstryd. Dit word wel op SuperSport 1 uitgesaai.
